Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: ANC kan gerus leer by dié doeners

Suid-Afrika is ’n land vol krisisse en uitdagings. Eskom is in sy maai. Die ekonomie op sy knieë. Die SAL in vryval.

Wat om te doen, waar om te begin? Cyril talm. Die ANC kibbel. En die res draai duime.

Gelukkig sit almal nie op hul alies of speel viool terwyl Rome brand nie.

Beslis nie Dillon Henwood nie. Waar ander verstar staan in die hoofligte van die trok wat op hulle afstorm, haal dié jong onderwyser (vanjaar is maar sy tweede jaar in die onderwys) diep asem en dóén. Nadat hy verlede jaar in die Junievakansie ’n desperate boodskap gekry het van ’n leerling wat vier dae laas iets te ete gehad het, het hy nie belangeloos sy foon afgeskakel of soos Cyril getalm nie. Hy’t gedoen.

Planne is goed, want sonder ’n kaart verdwaal jy immers maklik...

Die oproep, van ’n onmoontlike 13-jarige seun wat reeds twee grade agter was en sy onderwysers openlik uitgevloek het as n**iers, was die saadjie van ’n vakansievoedingsprogram wat die afgelope Desember elke dag aan 400 kinders ontbyt en middagete gegee het.

Dillon is nie uniek nie. Gelukkig nie.

Presies 379 kilometer noordoos van Elsies, daar waar die afstande groot is en die dorpies klein, is nog inspirerende Dillons besig om te doen eerder as te talm.

’n Paar jaar gelede was Merweville in die Karoo op die afdraande pad, uitgemergel deur ’n ongenaakbare klimaat en armoede. Maar danksy ’n handvol mense met visie en ten spyte van die uitmergelendste droogte in menseheugenis, is Merweville ’n voorbeeld vir die res van die land.

Die laerskool, wat voorverlede jaar amper deur die onderwysdepartement toegemaak is, is nie net vol jillende kinders nie, maar ook ’n toevlugsoord vir kinders wat – ironies genoeg – uit presies dié gebroke stedelike omgewings kom waar Dillon nou ’n verskil maak.

Volgende maand hou die Merwevillers ’n “groeiberaad” waarop hulle planne gaan maak om toerisme, landbou en infrastruktuur te ontwikkel.

Om berade te hou is ’n gewilde tydverdryf van ons regering. Planne is goed, want sonder ’n kaart verdwaal jy immers maklik, veral op die wye oop vlaktes van die Karoo.

Maar waarom is dit dat sommige berade planne maak wat op iets uitloop, terwyl ander – soos die ANC se vele lekgotlas – net by praat bly?

Die antwoord is tegelykertyd kinderlik eenvoudig om te antwoord, maar die doel so frustrerend moeilik om te bereik. Soos Merweville se skoolhoof, Gina Mans, dit so mooi stel: Alles is moontlik, maar dan moet jy roei.

Meer oor:  Sal  |  Eskom  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.