Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Behoort DA eenheid ten alle koste na te jaag?

Talle waarnemers van die Demokratiese Alliansie (DA) het die afgelope week die skielike bedanking van John Moodey, Gautengse leier, voorgehou as ’n “bewys” dat wit partyleiers saamsweer om van swart en bruin kollegas ontslae te raak.

Die teorie dat Moodey uitgestoot is oor sy ras kry heelwat steun te midde van klagtes dat Moodey hom aan “intimiderende, oneerlike, valse en onbehoorlike gedrag” skuldig gemaak het. Hy het na bewering druk op twee junior kollegas uitgeoefen om Mike Waters, ’n stigterslid van die DA, van onbehoorlike seksuele gedrag te beskuldig – iets wat die twee junior wyksraadslede sê niks meer is as fiksie nie.

'n Leser daarvan sou tot die slotsom kon kom dat Moodey onder kwaai druk was...

Die bestaan van dié klagtes word egter nie beskou as ’n aanduiding dat Moodey dalk iets het om te verduidelik nie; dit word eerder ingekleur as ’n bewys van hoe hard die DA werk om Suid-Afrika se mees veelrassige party weer wit te maak.

Transkripsies van foongesprekke wat die twee raadslede met onder andere Moodey gehad het, skets allermins ’n prentjie van seksuele uitbuiting; eerder van politieke rugstekery. ’n Leser daarvan sou tot die slotsom kon kom dat Moodey onder kwaai druk was, nie uitkomkans gesien het nie en besluit het om te spring voordat hy gestoot word.

Dít is wat die vertolking van gebeure tipies sal wees wanneer iemand wat Dinsdag nog hoop om partyleier te word Woensdag daardie party se bona fides bevraagteken.

As ’n ANC-leier bedank te midde van ’n dissiplinêre ondersoek – iets wat vir die eerste keer in dié party begin gebeur – word dit voorgehou as ’n bewys dat die ANC ernstig is oor aanspreeklikheid.

Nie in die DA se geval nie.

Die DA, eerder as Moodey, staan in die beskuldigdebank, net soos met die verbrokkeling van sy politieke huwelike met Mmusi Maimane, Herman Mashaba, Lindiwe Mazibuko en Patricia de Lille.

Dié lang lys name van swart en bruin vervreemde DA’s opper inderdaad belangwekkende vrae oor die party se bereidwilligheid om verby verskille te kyk ten einde ’n nuwe politieke etos in ’n korrupsievoos, rasverdeelde Suid-Afrika te vestig. Dit is voorts kommerwekkend om gerugte te hoor dat talle ander swart leiers en amptenare dit oorweeg om uit die DA pad te gee en net ’n dwaas sal afsydig staan wanneer verhoudings wat soms oor dekades opgebou is, skielik verbrokkel – Moodey was 22 jaar in die DA.

Iets is duidelik fout.

Maar sou ons die DA meer gerespekteer het indien die partyleierskorps gemaak het soos die ANC al 26 jaar maak, naamlik om party-eenheid ten alle koste na te jaag?

Tot waar het dit ons land gebring?

Die DA glo – reg of verkeerd – dat groei by die stembus nie outomaties sal volg as die party skadelike bewerings teen iemand soos Moodey bloot ignoreer nie. Die DA glo – en dalk is dit in ons adolessente politiek naïef – dat kiesers die party vir goeie, skoon regering in ’n plek soos die Wes-Kaap sal beloon en vir goeie idees, wat as teenwig vir die ANC se bankrot-beleid kan dien.

Op die DA se beleidskonferensie die naweek is ’n poging aangewend om die party te posisioneer nie net as ’n ANC minus korrupsie nie, maar as ’n party wat in iets meer as net sy eie oorlewing glo: Ideale soos nierassigheid, integriteit, diversiteit in meer as net ras, uitnemendheid, bewysgegronde beleidskepping en individuele vryheid – ideale wat lank reeds deur die ANC versaak is.

Terwyl bogenoemde groter strewes is as eenheid teen enige prys, sal die DA kiesers ook moet oortuig dat die verlies van swart party-veterane nietemin ’n saak van erns is.

Meer oor:  John Moodey  |  Da  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.