Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: ‘Bird Island’: Ons het ’n fout gemaak

Op 5 Augustus 2018 het Rapport ’n prominente berig oor bewerings in die boek Die seuns van Bird Island op ons voorblad gepubliseer.

Dit was ’n fout.

In die week ná publikasie van die boek kon ons reeds vasstel dat, hoewel daar stawende getuienis was vir van die bewerings in die boek, die sleutelbewerings op hoorsêgetuienis berus het.

Bronne het aan Rapport vertel dat al drie kabinetsministers wat in die boek betrek is – Magnus Malan, John Wiley (wat albei in die boek geïdentifiseer word) en Barend du Plessis (wie se naam in die boek weerhou is) – inderdaad een of meer kere op die eiland naby Port Elizabeth was.

Die oudpolisieman Gordon Lamastra het teenoor Rapport bevestig dat ’n vermeende slagoffer van seksdade in ’n huis aan die Tsitsikamma-kus destyds vir Wiley, Malan en Dave Allen op ’n foto uitgewys het.

Lamastra het ook bevestig hy was teenwoordig by ’n klopjag by ’n minister se huis op soek na kinderpornografie –maar kon nie bevestig wat daar gekry is nie.

En ’n senior lugmagoffisier het bevestig hy was betrokke by die reël van ’n vlug vir Wiley, Malan en nog ’n kabinetslid in ’n lugmaghelikopter na Bird-eiland vroeg in 1986.

’n Joernalis van ’n susterskoerant van Rapport is ook gekontak deur ’n 44-jarige “mnr. X” van die Oos-Kaap wat beweer het dat Malan hom destyds gemolesteer het.

Maar vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernalis bewyse vind wat onafhanklik geverifieer kon word nie.

Die boek se skrywers, Chris Steyn en die oudpolisieman Mark Minnie, het volgehou bewyse is op pad.

Nadat Minnie homself geskiet het (’n insident wat gevolg is met absurde bewerings dat ook dit die gevolg was van ’n komplot om te keer dat die volle waarheid uitkom) het meer inligting aan die lig gekom wat twyfel oor die integriteit van die boek saai.

Verlede week het die ondersoekende joernalis Jacques Pauw e-posboodskappe op VryeWeekblad.com gepubliseer waarin Minnie enkele dae voor publikasie aan sy uitgewer skryf: “Ons het geen konkrete bewyse dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie.”

Die vermeende slagoffer “William Hart” het boonop aan Pauw en verlede Sondag ook aan Derek Watts van Carte Blanche gesê hy het Malan nooit ontmoet nie en was al amper 27 toe die beweerde dade in 1987 gepleeg is – lank nie meer ’n kind nie.

Pauw het ook die eerste twee van Minnie se drie manuskripte vir sy deel van die boek gesien. Malan se naam verskyn nie daarin nie.

Wetende wat ons nou weet, moes Rapport die publikasie van die boek se bewerings op Sondag 5 Augustus 2018 anders hanteer het.

Ons vra ons lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning daarvoor.

Hoewel dit altyd ’n uitgemaakte saak was dat ons en ander media oor die boek sou berig, moes die uiters skadelike aard van die beweerde misdrywe ons versigtiger gemaak het vir hoe ons daaroor berig sodat ons die waarheid dien en skade beperk.

Meer oor:  Magnus Malan  |  John Wiley  |  Boek  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.