Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Black Lives Matter: Ja, daar is geldige vrae

Die sistematiese stroping onder apartheid van swart, bruin en Indiër-Suid-Afrikaners se burgerregte, menswaardigheid en ekonomiese geleenthede konfronteer wit mense steeds met ongemaklike waarhede en moeilike vrae.

Die waarhede sluit in dat wit “baasskap” in wette verskans is en dat wit kinders dikwels geleer is dat hulle beter as swart mense was. Vrae sluit in wat wit mense se morele plig in ’n arm, verdeelde en swak bestuurde postapartheid-Suid-Afrika teenoor swart en bruin landgenote is.

Want soveel as wat ons van ’n nierassige land droom, sorg nypende swart armoede en seer oor ’n verlede wat nog vlak lê steeds dat baie swart en bruin mense ’n mate van regstelling van wit mense verwag, of dan op die allerminste ’n erkenning dat die speelveld nog lank nie gelyk is nie.

Terselfdertyd sê selfs struggle-strydrosse dat die rede waarom miljoene jong swart mense in 2020 steeds arm is, al hoe minder met apartheid te make het en al hoe meer met ’n regering wat sê hy gee vir swart mense om, maar met sy dade die teendeel wys.

Met eerste oogopslag lyk dit na iets waarmee g’n mens kan verskil nie.

Teen hierdie agtergrond het ’n politieke veldtog genaamd Black Lives Matter verlede maand opnuut stukrag in Amerika en Brittanje gekry. Dit spoel nou na Suid-Afrika oor.

Met eerste oogopslag lyk dit na iets waarmee g’n mens kan verskil nie. Die pleidooi dat meer gedoen moet word om rasdiskriminasie teen swart mense te beëindig en beveg, klink redelik en selfs noodsaaklik.

Dít is waarskynlik waarom Krieket SA verklaar het hy “staan in solidariteit met die beweging Black Lives Matter”. Dit sal Krieket SA egter loon om kennis te neem van akute debatte oor BLM in Amerika, waar die beweging in 2013 al ontstaan het, en in Brittanje, waar die plaaslike tak die laaste weke groot aandag trek.

Terwyl baie mense die eksplisiete premis van die veldtog aanvaar en steun, word belangrike vrae oor die doelwitte gevra van die organisasie wat die mag agter BLM is.

In Amerika sluit BLM se doelwitte in die “ontwrigting van die Westers-voorgeskrewe kerngesinstruktuur”. Dít terwyl ook swart ontleders al jare juis die vernietiging van gesinstrukture vir hoë vlakke van geweldsmisdaad in swart gemeenskappe blameer.

BLM vra nie net dat wit polisielede wat mense soos George Floyd vermoor vervolg word nie – ’n geldige eis! Hulle wil ook polisiedepartemente afskaf of polisiefinansiering skerp sny terwyl swart gemeenskappe juis die beskerming van die polisie nodig het teen geweldsmisdadigers, wat disproporsioneel swart is. 52% van moorde tussen 1980 en 2008 is volgens die Amerikaanse departement van justisie gepleeg deur swart Amerikaners, wat 13% van die bevolking uitmaak.

’n Beweging wat bloot vir swart lewens omgee, sal ook erns met die lewens van swart slagoffers van geweldsmisdaad maak.

Ook BLM se aanval op “heteronormatiewe denke” is allermins onomstrede, ook onder meestal konserwatiewe swart Amerikaners.

In Brittanje is die organisasie BLM insgelyks veel meer omstrede as wat die nodige boodskap “black lives matter” sou suggereer.

Daar vra die organisasie sedert 2016 vir die aftakeling van “imperialisme, kapitalisme, wit heerssugtigheid, die patriargie en staatstrukture wat swart mense disproporsioneel benadeel.” BLMUK het al gevra dat tronke afgeskaf word (2016), gesê dat werkloosheid “geweld” is (2019), en meer onlangs dat die koronavirus self rassisties is (Julie 2020).

Terwyl baie vreedsame ondersteuners van BLM bloot ’n einde wil sien aan polisiegeweld en gegrief is oor die gapende welvaarts­kloof tussen wit en swart, het die beweging inderdaad ook ’n voertuig geword vir politieke doelwitte waaroor ordentlike mense, swart en wit, in Amerika, Brittanje en ook Suid-Afrika, verskil en moet kan verskil.

Pogings deur kommentators die afgelope week om voormalige Protea-krieketspelers as ontkenners van rassisme of selfs as rassiste uit te beeld net omdat hulle ongemak verwoord oor van hierdie ander politieke doelwitte in Black Lives Matter, is goedkoop politiekery. Terwyl dit boonop nodig is om te erken dat swart mense in Suid-Afrika vir honderde jare verontmenslik is deur wit mag, en al is dit ons plig om menslike lyding te help verlig, veral in swart en bruin gemeenskappe, is die ingevoerde BLM geen oplossing vir wat in Suid-Afrika fout is nie.

Meer oor:  Rapport Sê  |  Menseregte  |  Hoofartikel  |  Rasseverhoudings  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.