Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Bly stil en luister na verlore kenners

Onaangename fase 4-beurtkrag, die herrie omdat pres. Cyril Ramaphosa die reusagtige Eskom wil ontbondel en die skokkende syfers wat wys dat Eskom tegnies bankrot is – dit alles het dit die afgelope week wreed duidelik gemaak dat Suid-Afrika op die rand van ’n ekonomiese afgrond staan en wankel.

Almal het iets daaroor te sê.

Oor privatisering, werkskepping en die township-onrus oor dienslewering, waarvoor nooit betaal word nie omdat nie daarvoor betaal kan word nie.

Dis ’n helse geraas, maar nêrens word genoem dat Eskom ’n hoogs tegniese maatskappy is waarin elke denkbare ingenieurs- en wetenskaplike dissipline, tegniese vaardighede en finansiële kundigheid op ’n hoë vlak bymekaar kom nie.

In sulke omgewings is min ruimte vir politieke speletjies. Tog het Eskom ’n speelplek geword vir vakbonde, politieke partye en ander drukgroepe.

En toe het die staatskapers ná die verkiesing van 2014 toegeslaan.

Die miljarde wat hulle gesteel het, is nie die grootste skade wat hulle aangerig het nie. Dis die topkundiges wat hulle verwilder het.

Rapport publiseer vandag ’n paar van die name op sy voorblad, maar daar is meer – omtrent 30 tot 40 van alle rasse, almal hoogs ervare en gekwalifiseerd, baie met unieke vaardighede en kundigheid wat in Eskom ontwikkel is.

Jy kan hulle nie vervang nie.

Oor privatisering net dit: Ramaphosa sê Eskom gaan nie geprivatiseer word nie.

Ons wil nie met hom hare kloof nie, maar dis duidelik dat die elektrisiteitsbedryf, ’n noodsaaklike diens waaroor Eskom ’n monopolie het, vir private rolspelers oopgestel gaan word.

’n Mens kan dit seker noem wat jy wil.

En dis reg dat dit gedoen word. Dis tog rasioneel. Ons sal dit moet doen as ons die belegging wil kry waarna ons energiesektor al so lank smag.

Die regering behoort erns daarmee te maak om daardie verlore kundiges terug te bring en dan na hulle te luister. Luister, mnre. Ramaphosa en Gordhan. Moet vir ’n slag nie praat nie.

Dan bring julle vir David Sipunzi van die NUM, Irvin Jim van Numsa en Dirk Hermann van Solidariteit in. Laat hulle stilbly en laat hulle ook luister.

En dan maak julle die deure van Eskom se raadsaal toe. Niemand kom daar uit voordat julle weet wat volgende met Eskom gaan gebeur nie.

Nou ja – dit sal seker nie letterlik gebeur soos hierbo voorgestel nie. Maar om die kenners aan die woord te stel, is die enigste manier om die ideologiese wolk te laat verdamp wat nou oor Eskom hang.

En dit sal moet verdamp, anders is Suid-Afrika onderdeur.

Meer oor:  Eskom  |  Hoofartikel  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.