Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Carpe Diem! sê Cyril op Loftus

Pres. Cyril Ramaphosa is lank genoeg in die land om te weet die behaaglike deel van sy groot avontuur om staatshoof van Suid-Afrika te wees, is nou grootliks agter die rug.

Sy inhuldiging Saterdag op Loftus Vers­feld in Pretoria was volgens alle aanduidinge ’n heuglike okkasie. Rama­phosa het die dag syne gemaak.

Ondersteun hom of nie, jy moet toegee Suid-Afrika het ná tien jaar weer ’n eerste burger wat presiden­sieel lyk, vaardig is met woorde en wat weet hoe om uit te styg as die groot geleentheid hom voordoen.

Ramaphosa het uitvoerig gepraat oor wat Suid-Afrika alles bereik het die afgelope 25 jaar. En groot gewag gemaak van die enorme probleme, bepaald armoede en werkloosheid, wat nog opgelos moet word. Geen dispuut hieroor nie.

Die probleem vir Ramaphosa is dat die meeste van die opruimingswerk in die hart van sy eie party gedoen moet word.

Oor dit wat skeefgeloop het, was die president veels te bondig – twee sinne, om presies te wees. “In onlangse tye het ons mense gesien hoe sommiges in wie hulle hul vertroue gestel het hulle oorgegee het aan die versoekinge van mag en rykdom.”

En: “Hulle het gesien hoe sekere van die instellings van ons demokrasie weggekalwe is en hoe hulpbronne verkwis is.”

Waarvan Ramaphosa hier in abstraksie praat, het ’n naam: gruwelike korrupsie en verkwisting van belastinggeld. Om werk daarvan te maak, sal Ramaphosa se belangrikste prioriteit in die weke en maande vorentoe wees.

Ja, hy moet die ekonomie aan die groei help kry sodat werk geskep kan word. Maar dit sal eintlik eers begin gebeur as beleggers sigbare vordering sien met die uitroei van korrupsie en herstel van die etiese, funksionele bestuur van staatsfinansies.

Die probleem vir Ramaphosa is dat die meeste van die opruimingswerk in die hart van sy eie party gedoen moet word. Korrupsie sedert 1994 is deur en deur ’n ANC-ding.

In die proses sal magtige figure en faksies in die ANC voor die bors gegryp moet word. Dit gaan bomenslike politieke wilskrag en stamina van Ramaphosa vereis.

Daarvoor het die tyd nou aangebreek. Buiten die samestelling van sy kabinet is al die formaliteite nou agter die rug. Al speel Ramaphosa kwansuis ’n politieke spel met ’n langer tydsduur wil die land meer daadwerklike aksie begin sien.

Ramaphosa het Saterdag plegtig sy vertroue betuig dat SA die vermoë het om korrupsie en staatsverval te stuit. En om die ontbering en swaarkry van miljoene armes te verlig. Net tasbare resultate sal bewys of daardie vertroue geregverdig was of nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Rapport Sê  |  Hoofartikel  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.