Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Clicks, wat eet uit EFF se hand, moet hulle skaam

Die besluit van Clicks se base om die EFF Donderdag by dié party se hoofkantoor en op dié party se voorwaardes te ontmoet, en dan boonop aan ’n lang lys EFF-eise toe te gee, is ’n oorwinning vir die voorstanders van geweldpleging en anargie in die land.

Terwyl ’n mens Clicks se besluit begryp om ’n apologie te bied aan die derduisende klante en ander lede van die publiek wat gebelg was deur die gewraakte advertensie vir sjampoe, was die uitreiking van ’n gesamentlike verklaring Donderdag deur Clicks se bestuur op ’n EFF-briefhoof ’n gevaarlike kapitulasie. Dit was in wese die toegewing van ’n magtelose slagoffer wat haar vanger, al dreigende dat sy nog ’n paar houe teen die kop sal kry, gee net wat hy vra. Om aan diegene wat dreig met geweld, en dan daardie dreigemente uitvoer, hul sin te gee, kan nooit heilsame gevolge hê vir versoening, handelsvryheid, en die publiek se redelike verwagting dat geskille soos dié sonder petrolbomme bygelê moet word nie.

Die EFF geniet natuurlik, soos die res van ons, grondwetlike beskerming vir selfs kwetsende kommentaar op die foto’s van wit en swart vroue se hare wat soveel swart vroue laat terugdeins het. Die beelde het by baie van hulle die indruk gelaat dat swart vroue se hare deur TRESemmé, die sjampoevervaardiger, en Clicks, wat die produk bemark het, as minderwaardig beskou word, hoe onwaarskynlik dit ook was dat dít die bedoeling van die wit, swart en bruin bemarkingspan agter die plasing was.

Dit was in wese die toegewing van ’n magtelose slagoffer wat haar vanger, al dreigende dat sy nog ’n paar houe teen die kop sal kry, gee net wat hy vra.

Wat die EFF nie die reg het om te doen nie, was wat Julius Malema, sy sogenaamde “opperbevelhebber”, Sondag gedoen het, naamlik om EFF-lede op te roep om Clicks-takke te dwing om te sluit deur Clicks “aan te val”. Dit is aanhitsing tot geweld. Daar is selfs regskenners wat glo dit is in stryd met bepalings van die Wet op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en verwante Aktiwiteite (Wet 33 van 2004), wat enigiemand uitdruklik verbied om geweld arbitrêr te gebruik, of daarmee te dreig, op ’n manier wat lei tot die verwoesting van eiendom, of wat redelikerwys vertolk kan word as ’n bedoeling om enige persoon te dwing of te intimideer om iets te doen of nie te doen nie, of om ’n standpunt oor ’n kwessie in te neem of nie in te neem nie, of om op te tree kragtens bepaalde beginsels. Sulke dreigemente wat boonop mik om ’n politieke of ideologiese doelwit te help verwesenlik, word uitgesonder.

Die EFF het natuurlik ook nie die reg gehad om Malema se dreigement uit te voer nie, soos wat hulle by dosyne geleenthede sedert Maandag gedoen het. Nie net is petrolbomme na Clicks-takke gegooi nie; laag besoldigde werknemers van Clicks en gewone lede van die publiek, selfs volwasse vroue, is gedreig, gevloek, en verwilder. Baie EFF-lede het geen poging aangewend om hul haat vir wit mense te versteek nie.

Die kabinet het die geweldpleging veroordeel, terwyl die Demokratiese Alliansie ’n strafsaak geopen het teen Malema en sy party weens aanhitsing tot geweld. Adam Habib, uittredende rektor van Wits, het gewaarsku die EFF verheerlik pal oorlog – net om keer op keer daarmee weg te kom. “Ons leef in gevaarlike tye,” het hy gemaan. Solidariteit het opgemerk Clicks skep ’n kommerwekkende presedent. Talle EFF-lede sou intussen in die hof verskyn te midde van ’n ondersoek deur die Menseregtekommissie nie na die EFF nie, maar na Clicks.

Toegewing aan geweldenaars soos Malema sterk hul hand. Clicks behoort hulle vir die tweede keer dié week regtig te skaam.

Meer oor:  Advertensie  |  Clicks  |  Kommentaar  |  Haar-Herrie  |  Eff  |  Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.