Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Cyril, jy het ’n plig om eiendom te beskerm

Die ANC het in 24 jaar aan bewind net geld geblaas en sieklike lippediens aan grondhervorming betoon. Vandag betaal Suid-Afrika die prys daarvoor met beleggingsonsekerheid wat ekonomiese stabiliteit ál vinniger wegkalwe.

Pres. Cyril Ramaphosa hou duidelik sy oë op die lang termyn: maak reg die reguleringswette wat sy voorganger opgemors het, skop berekend en doelgerig die boewe en rowers in ontwerpersklere uit wat in staatsbeheerde maatskappye geplant is in Jacob Zuma se staatskapingsprojekte en doen radikale rekonstruksie van die regstelsel en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Niks daarvan gaan hy oornag regkry nie, maar as hy volhou en sy mag konsolideer, sal dit die een of ander tyd beter begin gaan. Selfs met grondhervorming kan ons weer op koers kom, al praat en dink soveel mense ons die Zimbabwe-verdoemenis in.

Waarmee Ramaphosa en die goeie ouens in sy party egter nie raad of daad het nie, en dit vinnig sal moet kry, is wetteloosheid in die algemeen en grondgrypers in die besonder.

Dis Suid-Afrika se achilleshiel en dit kan en gaan ons oor die afgrond stoot as ons regeerders nie vinnig ruggraat kry nie. Hoe duideliker dit word dat die EFF en Black First Land First se grondnagmerries nie gaan waar word omdat hulle eenvoudig geen steun daarvoor het nie, hoe meer uitdagend en intimiderend word hulle. Want hulle weet dat geweld of die dreigement van geweld nou die enigste alternatief is.

In die parlement het Julius Malema en Floyd Shivambu al verskeie kere verklaar dat niemand hulle gaan keer om grond te vat nie. En in middelklaswoonbuurte dóén hul agterryers dit eenvoudig, waar hulle ook al ’n gaping daarvoor kry. En waar hulle nie ’n gaping kry nie, maak hulle een.

In die proses kyk die res van die land dag ná dag hoe onskuldige mense se belangrikste bates eenvoudig van hulle gestroop word. Die enigste kere wat die wetstoepassers nie anderpad kyk nie, is om deel te neem aan die stropery.

En elke wetsgehoorsame burger wonder: wanneer is dit my beurt? Wat anders kan ek doen as om pad te gee?

Ja, pres. Ramaphosa, jy het ’n plig om diegene te probeer help wat geen dak oor hul koppe het en sonder hulp geen kans staan om dit te kry nie. Maar jy het net soveel, indien nie meer nie, ook ’n plig om te sorg dat diegene wat die wette gehoorsaam, ook deur die wette beskerm word. En dat hul eiendom teen boewe beskerm word.

As jy en jou wetstoepassers nie baie vinnig jul beskroomdheid oor die Marikana-slagting afskud nie, gaan jul ander goeie werk ’n vermorsing van jul tyd wees.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.