Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Cyril se plan is die enigste wat SA nou het

Pres. Cyril Ramaphosa se groeiplan vir die ekonomie is die ANC se vierde ekonomiese plan die afgelope paar jaar.

Dit volg op oudpres. Jacob Zuma se negepuntplan in 2015 en Malusi Gigaba se 14-puntplan van Julie verlede jaar. Van daardie planne het dadels gekom, al is daar merkbare ooreenkomste tussen al die planne.

So, waarom moet ons Ramaphosa en sy ideologies moeë party glo dat hulle hierdie keer ernstig is om ’n stotterende ekonomie aan die brand te stoot? Die siniese antwoord is dat ons geen ander keuse het nie. Rama­phosa (en sy twee luitenante Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene) is werklik die enigste mense wat oor is binne die ANC wat met komplekse ekonomiese probleme vertrou kan word. Dis net hulle wat tussen ons en die ingrype van die Internasionale Monetêre Fonds staan.

Dis maklik om die plan te kritiseer dat dit nie ver genoeg gaan om die strukturele ekonomiese probleme aan te pak nie. Maar dit beteken nie dat dit ’n plan sonder meriete is nie – ten spyte van die feit dat baie daarvan wragtig nie kernwetenskap is nie. Die verslapping van die visum-voorwaardes en die toewysing van breëbandspektrum (iets wat Zuma reeds in 2015 beloof het!) is voorbeelde van aksies só voor die hand liggend dat dit die naam “plan” nie eens werd is nie. Tog, al doen Cyril nét dit, het hy meer vermag as ál die vorige planne saam.

Die plan se sentrale pilaar, ’n infrastruktuurfonds van R400 miljard, is die een aspek van die CR-plan wat Ramaphosa se vermoë om te doen wat hy beloof tot die uiterste sal toets.

Ons regering het nie R400 miljard nie en kan dit ook nie eens gaan leen nie. As sulke geld beskikbaar is, sal dit afgeknyp moet word by staatsdepartemente wat reeds beswaarlik genoeg het om hul oordrewe salarisrekeninge te betaal. Ramaphosa hoop dat hy die fonds kan gebruik as hefboom om nóg geld van private beleggers en banke te lok vir infrastruktuurbesteding.

Om sulke beleggers se vertroue te wen, is sy voorneme om ’n bestuurspan in die presidensie te setel met “omvattende kundigheid in projekbestuur en ingenieurswese” om projekte wat “graafgereed” is te identifiseer en te bestuur.

Ten minste is dit die taal van ’n president wat die omvang van die probleem begryp. Ons hou asem op dat Ramaphosa nou ook doen wat hy sê.

Meer oor:  Cyril Ramapahosa  |  Hoofartikel  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.