Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: DA-manifes ’n Rolls – maar wat van taal?

Die blink motorfietse wat Saterdag gesien en gehoor is by die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes het vreemd opgeval vir ’n party wat homself van die vulgêre ANC probeer onderskei. Gelukkig is die manifes self ’n Rolls-Royce.

Die DA, wat op sosiale media so hard probeer om lefties nie aanstoot te gee nie, begin sy manifes met die noodsaaklike verklaring dat eiendomsreg heilig is – en uitgebrei moet word.

Die DA verbeel hom boonop ’n Suid-Afrika waarin minder mense afhanklik is van die regering (heelwat meer Suid-Afrikaners ontvang deesdae maatskaplike toelaes as wat werk). Die DA verwerp boonop die fiksie dat ’n regering gelyke uitkomste kan waarborg – naamlik dat almal eendag ekonomies gelyk sal wees – en plooi liewer sy beleid sodat alle Suid-Afrikaners gelyke geleenthede geniet om hulself op te hef.

Aan die kern van dié projek staan vaardighede, want die gebrek hieraan hou verskeie Suid-Afrikaners arm.

Hoewel Afrikaanse kiesers ook die dinge wil hê wat ander kiesers begeer, is die DA toondoof vir strewes wat eie is aan Afrikaanse kiesers.

Die DA sien die staat as ’n “neutrale agent” wat moet fasiliteer eerder as om wetsgehoorsame burgers en beleggers met regulasies te smoor. Daarom wil hy spesifieke stukke wetgewing herroep wat beleggings en werkskepping strem – insluitend die Mynbouhandves, die Wet op die Beskerming van Beleggings (wat die teenoorgestelde doen) en die omstrede Mededingingswysigingswet. Die DA se aangryp van die private sektor as ’n oplossing, eerder as ’n probleem, is ’n noodsaaklike teenmiddel vir die waansin in Luthuli-huis.

Talle ANC-taboe’s word getakel: Arbeidswetgewing moet verslap word om indiensneming én afleggings makliker te maak; die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet geprivatiseer word; die Nasionale Gesondheidsversekering moet verwerp word; rasgegronde regstelling moet ’n sonsondergangklousule kry; en onderwysers wat weier om hulself behoorlik te bekwaam moet waai.

In die Wes-Kaap, die enigste beduidende regering wat al geruime tyd onder DA-beheer is, is werkloosheid 14 punte laer as die land se gemiddelde. Watter beter toets vir partybeleid is daar.

Die DA sal egter net sy beleid buite die Wes-Kaap kan uitvoer as hy die nuwe stemme wat hy hoop om onder swart kiesers te kry voeg by die stemme van sy tradisionele kiesers, van wie die meerderheid wit en bruin is, en ’n groot klomp Afrikaans. Hoewel Afrikaanse kiesers ook die dinge wil hê wat ander kiesers begeer, is die DA toondoof vir strewes wat eie is aan Afrikaanse kiesers. Die moontlikheid dat taal ’n politieke kwessie is wat dié kiesers baie na aan die hart lê, is vir die DA se slimste denkers ’n verrassing. Hulle het twee maande oor om wakker te skrik.

Meer oor:  Afrikaans  |  Da  |  Rapport Sê  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.