KwaZulu-Natal was min of meer verbode grondgebied vir Cyril Ramaphosa toe hy in Desember 2017 president van die ANC geword het.
Selfs in die verkiesingsveldtog kon hy dit net waag om self daar op te tree met die goedkeuring van sy berugte voorganger, Jacob Zuma.
Maar Woensdag is die burgemeesterskomitees van Ethekwini (Durban) en Msunduzi (Pietermaritzburg) deur die ANC se provinsiale uitvoerende komitee onder leiding van die uitgeslape premier Sihle Zikalala uitgeskop. Daarmee is die vlerke geknip van die berugte Sandile Gumede, burgemeester van Ethekwini.
Zikalala was self ten tyde van die Nasrec-konferensie ’n hoeksteen in die Zuma-dampkring, maar het in die loop van verlede jaar stil-stil perde geruil.
Dit is ’n spel waarin Ramaphosa deurgaans flikflooi met populisme en waarin hy enige tyd sy vingers kan verbrand.
Hoe Ramaphosa dit reggekry het om Zikalala aan sy kant te kry, is een van die digs bewaarde geheime in ons politiek. Maar daarmee het hy ’n stewige greep gekry op die strategies belangrikste provinsie in die binnepolitiek van die ANC.
Die sogenaamde nuwe daeraad-jubeling wat oor die land weerklink het toe hy Zuma in Februarie verlede jaar uit die Uniegebou gestoot het, was van die begin af onrealisties. Maar vandeesweek se gebeure in die gewelddadige KwaZulu-Natal wys dat Ramaphosa se langtermynspel nie net praatjies is nie.
Dit is ’n spel waarin Ramaphosa deurgaans flikflooi met populisme en waarin hy enige tyd sy vingers kan verbrand. Soos in die debat oor grondonteiening sonder vergoeding, die Nasionale Gesondheidsversekering en die afskryf van behoeftiges se skuld – al drie beleidsbesluite wat die ekonomie enorme skade berokken.
Die spel eis nog ’n groter tol in die regering self. Alles dui daarop dat Ramaphosa homself in ’n hoek vasgeverf het met beloftes dat daar geen arbeidsbesnoeiing in Eskom en die staatsdiens gaan wees nie, ondanks die al groter wordende gat wat dié reuse-instellings in die staatskas vreet.
Die week se gebeure kan selfs die kanse verbeter dat Ramaphosa ’n tree nader daaraan kom om op die volgende ANC-leierskonferensie in 2023 vir ’n tweede termyn tot ANC-president herkies te word, hoewel baie water nog tussen nou en dan in die see kan loop: In die Wes-Kaap het die “terugveg-faksie” met die hulp van sekretaris-generaal Ace Magashule die afgelope jaar die Ramaphosa-ondersteuners uitgeskakel, die kandidatelys gekaap en Donderdag ’n tussentydse provinsiale komitee aangewys wat by elke moontlike geleentheid vir Ramaphosa gaan probeer dwarsboom.