Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Die ANC en AfriForum: Só lyk hul planne nou

Vyftien jaar gelede het Suid-Afrika baie anders gelyk. Die ekonomie het sy sterkste groeifase sedert die 1960’s beleef met groei van meer as 5% en 7,1% het gewink.

In sy staatsrede in Februarie 2006 het oudpres. Thabo Mbeki gespog met ’n Gallup-peiling wat gewys het dubbel soveel Suid-Afrikaners as in 2002 was optimisties.

’n Selfversekerde Mbeki, wat sewe maande vroeër ontslae geraak het van sy adjunkpresident, Jacob Zuma, was vol planne vir beleggings in elektrisiteit, damme, paaie en treinspore, en die regruk van die polisie sodat landsburgers veiliger kon voel. Om te wys hy is ernstig oor die terugploeg van vaardighede in die staat het hy die “VF Plus en ander formasies” bedank vir hul hulp om 90 Suid-Afrikaners met skaars vaardighede te werf om met projekbestuur in die staat te help.

Nog voordat die rebellie in die ANC behoorlik op dreef sou kom waarin Mbeki die volgende Desember as ANC-president onttroon sou word, het ’n groepie Afrikaanse vakbondmense in Centurion reeds voorspel dat Suid-Afrikaners binnekort wreed ontnugter sou word.

Terwyl Mbeki se drome beduiwel is deur korrupsie, sy party se obsessie met sentrale beheer en die bykans algehele instorting van die burokrasie, het AfriForum gewys wat gemeenskappe kan doen as hulle verbeeldingryk aan instellings bou.

Hulle het hulle nie blind gestaar teen die groeikoers en Mbeki se aanhaling uit ’n gedig van Ingrid Jonker nie. Hulle het eerder verwag dat die ANC se obsessie met sentrale beheer en kaderontplooiing – alles netjies in beleidsdokumente onder oudpres. Nelson Mandela én Mbeki uiteengesit – weldra ramp­spoedige gevolge vir dienslewering en die gehalte van die burokrasie sou hê. Hierdie vrese is bewaarheid en miljoene Suid-Afrikaners is in ellende gedompel.

Die Centurion-span het egter ook ander bekommernisse gehad. Al hoe meer Afrikaanssprekendes was besorg oor ’n regering wat al hoe meer obsessief geraak het oor ras – ja, reeds onder Mbeki – en wat veeltaligheid en veral Afrikaans as ’n struikelblok beskou het in hul pogings om ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit in hul eie beeld te skep.

Toe doen hulle iets.

Op 26 Maart 2006 het Rapport berig oor die stigting van ’n nuwe Afrikaanse organisasie, AfriForum. Met adviseurs soos die oud-PFP-leier dr. Frederik van Zyl Slabbert, die regsgeleerde prof. Marinus Wiechers en dr. Flip Buys van Solidariteit wou AfriForum Afrikaners luidens die Rapport-berig opnuut by die nasionale gesprek betrek en instellings van selfsorg bou, omdat hulle gesien het die staat kan of wil nie meer in al hoe meer Suid-Afrikaners se behoeftes voorsien nie.

Kallie Kriel, wat as AfriForum se uitvoerende hoof aangestel is, het in Rapport gesê hul doelwit is om ’n “beter toekoms in Afrika (te skep) vir almal wat geen ander tuiste as dié vasteland ken nie”.

AfriForum se konserwatiewe wortels sou nooit in alle Afrikaanses se smaak val nie. Maar 15 jaar later onderskryf 275 000 mense Kriel en kie se 2006-visie met ledegeld en die groter Solidariteit Beweging het tot ’n kolos gegroei wat Vrydag ’n kampus van meer as R300 miljoen vir die opleiding van ambagslui (Sol-Tech) ingewy het. Dis ’n deurbraak vir die Afrikaanse werkersklas in die noorde van die land en ’n model vir wat ook elders tot stand gebring sou kon word.

Terwyl Mbeki se drome beduiwel is deur korrupsie, sy party se obsessie met sentrale beheer en die bykans algehele instorting van die burokrasie, het AfriForum gewys wat gemeenskappe kan doen as hulle verbeeldingryk aan instellings bou. Hierdie verbintenis tot “bou” is volgens AfriForum ’n blyk van vertroue in ’n toekoms wat nie oorgelaat moet word aan die regering nie.

Dat selfdoen ’n veel beter opsie is as terugsit en mor, is vir seker. Dat geen gemeenskap kan floreer as ander swaarkry nie is ook so.

Meer oor:  Thabo Mbeki  |  Hoofartikel  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.