Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Die nag is donker: Kom ons vat hande?

Hulle sê as die nag op sy donkerste is, is die daeraad op sy naaste.

En dat die nag donker is, is sonder twyfel so. Die land is so bankrot soos wat dit laas tydens die doodsnikke van apartheid was. Binne die regerende party woed ’n geveg om den dode tussen die magte van lig en duisternis.

Maar as jy regtig wil weet hoe ver heen die land is, moenie dit gaan soek by die Zondo-kommissie of in die minister van finansies se toesprake nie. Klim in jou kar en neem enigeen van die hoofroetes uit bykans enigeen van ons groot stede. Oos, wes, noord, suid – dit maak nie saak nie.

Kyk hoe dorp ná dorp ná dorp waardeur jy ry tot in die afgrond in bestuur is deur ’n paar fat-cat- plaaslike ANC-raadslede.

Ongelooflik konstruktiewe dinge gebeur wanneer gemeenskappe begin sorg vir hulself – en dan ook vir mekaar.

Hou stil in enige van hierdie dorpe en vra of hulle elke dag van die week water het, of hul vullis gereeld verwyder word en of hul plaaslike raad se rekening aan Eskom ten volle vereffen is. Kanse is goed dat jou gespreksgenoot net sy of haar oë gaan rol. Gevolg deur die vermaning: Julle ouens daar in die stede het nie ’n idee hoe dit hier gaan nie.

Vandag se berig oor die feit dat die hele Johannesburg net een brandweerwa tot sy beskikking het, laat ’n mens vermoed dat die ANC-bestuurders net beter vaar daarin om die verval van ons stede vir die burgery weg te steek. Gelukkig slaan jou huis nie elke jaar of wat aan die brand nie. Want as hy het, sou jy geweet het dat die talle brandweerstasies wat oor die stad heen geleë is, maar net fronte is, parkeerplekke vir rooi wrakke te stukkend om te ry. Die stad slaag nie naastenby daarin om sy verantwoordelikhede teenoor sy burgers na te kom nie. Dis niks anders as kriminele nalatigheid nie. Dit word soveel erger gemaak deur die feit dat Kaapstad die afgelope twee jaar 133 nuwe brandweervoertuie aangekoop het om voertuie wat lank in die tand word te vervang en hul vloot van brandweerwaens verder uit te brei. Hoe kry een stad dit reg om oor ’n tydperk van 24 maande genoeg brandweervoertuie te koop om Ekurhuleni se hele vloot een en ’n half keer oor te vervang? In watter van die twee stede, dink jy, is die ANC in beheer?

Die nag is inderdaad bitter donker.

Maar ook in vandag se koerant, in ’n onderhoud met Hanlie Retief, vertel Carel van Heerden van Koster in Noordwes hoe hulle daarin geslaag het om deur ’n hofbevel die dorp se waterwerke by hul patetiese munisipaliteit oor te neem – ten spyte van die munisipale bestuurder en sy rampokkerbende se pogings om hul werk in die wiele te ry.

Van Heerden en sy Gideonsbende se storie is een van hoop.

Dit is juis hierdie tipe ingrypings deur gemeenskappe wat Vrydag en gister by ’n beraad tussen ’n groep Afrikaners en die Thabo Mbeki-stigting voorgehou is as ’n beter pad vorentoe. Die Afrikaner-groepe wat ’n pad vorentoe probeer baan saam met nóg ’n groep wat eens hierdie land regeer het, weet uit ervaring dat ongelooflik konstruktiewe dinge gebeur wanneer gemeenskappe begin sorg vir hulself – en dan ook vir mekaar.

Om hemelsnaam – kom ons vat hande?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.