Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Die verhaal (en lesse) van 2019 se twee Wêreldbekers

Die kontras kan kwalik duideliker.

Aan die een kant: ’n Rasbehepte, verdeelde sportbeheerliggaam wat in ’n oorlog met homself en sy spelers gewikkel is.

Aan die ander kant: ’n Unie wat bewus is van die belang van transformasie, maar nie huiwer om die regte persoon in die regte pos aan te stel nie – ongeag velkleur. En boonop bereid is om uit sy foute te leer.

Die gevolg van die eerste benadering was ’n Wêreldbeker-veldtog wat van Suid-Afrika ná beswaarlik drie wedstryde die grap van die toernooi gemaak het.

Die vrugte van die tweede benadering? ’n Wêreldbeker-veldtog wat, nog lank voordat hulle gister die goud beklink het, die ganse land laat bors uitstoot het en agter ’n gesamentlike doelwit verenig het.

Wat KSA se bobaas-rasspeurders in die “ondersoek” wil uitkrap, weet nugter.

Die uiteenlopende vertonings van die Proteas en die Springbokke by vanjaar se Wêreldbekers het hul oorsprong ver weg van die groen velde van Engeland en Japan.

Ná twee rampjare vir Bok-rugby in 2016 en 2017 – met vernederende loesings teen onder meer Nieu-Seeland (0-57) en Ierland (3-38) – het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) besef drastiese stappe is nodig. Die persoon met die beste kans om die Bokke reg te ruk – die destydse Munster-breier Rassie Erasmus – is aangestel. Die 30-toets-reël, wat dit moeilik gemaak het vir oorsese spelers om vir die Bokke te speel, is geskrap. Dit het die deur oopgemaak vir opwindende spelers soos Cheslin Kolbe en Faf de Klerk om vir die Bokke uit te draf.

Nadat Erasmus oorgeneem het, het hy die draak van provinsialisme se tande getrek deur die land se Super-spanne te betrek en deel van sy planne te maak. Bok-hulpafrigters soos die verdedigingsghoeroe Jacques Nienaber is ontplooi om hul kennis met die hele land se topspelers te deel.

Erasmus het spelers deurgaans op die hoogte gehou van waar hulle in die Bok-prentjie inpas. Spelers prys gereeld sy reguit benadering: Hulle was dalk nie altyd in die Bok-23-tal nie, maar hulle het altyd geweet waar hulle staan. Die afgelope week het die voorryman Beast Mtawarira gesê Erasmus is die eerlikste afrigter vir wie hy in sy lang Bok-loopbaan gespeel het.

Aan die ander kant van die draad het die chaos wat die afgelope paar jaar in die raadsale van Krieket Suid-Afrika (KSA) heers nou ook na die vertonings op die veld begin oorspoel. In die jongste intrige is drie senior KSA-amptenare om oënskynlik vreemde redes geskors. Maar miskien die absurdste oomblik was toe KSA die afgelope week aankondig hy gaan ’n ondersoek na WP-krieket van stapel stuur.

Die WP se aartssonde? Dit blyk die Cobras het in ’n vierdag-wedstryd teen die Warriors die veld met ’n volle sewe gekleurde spelers betree – een meer as die ses wat deur KSA vereis word. Maar (en volgens KSA is hierdie ’n gróót maar), net twee van die sewe het die presiese regte kleurskakering gehad. Die krieketbeheerliggaam vereis dat minstens drie spelers in ’n plaaslike span “swart Afrikane” moet wees. So nou word die WP, tradisioneel een van die mees getransformeerde streke, deur ’n moontlike straf in die gesig gestaar – ten spyte daarvan dat hulle vrywillig en natuurlikergewys die hoofteiken oortref het.

Wat KSA se bobaas-rasspeurders in die “ondersoek” wil uitkrap, weet nugter, maar een ding is duidelik: Wanneer die kleurtelkaart belangriker raak as die kriekettelkaart moet ’n mens miskien nie te verbaas wees as ander lande jou neus in die gras vryf nie.

Daarteenoor staan die meer oopkop-benadering van Saru en sy president, Mark Alexander. Alexander het dit nog altyd duidelik gemaak dat transformasie meer as ’n blote getallespeletjie is en gister is dié strategie beloon met Wêreldbeker-glorie.

Of Erasmus vir sy volle twee jaar aan die stuur tot die letter aan elke transformasieteiken voldoen het, is eintlik nie belangrik nie. Van veel groter betekenis is dat hy en Saru die gees van diversiteit en eenheid aangegryp het. Dit het baie meer vir die land – én transformasie – beteken as wat enige kunsmatige kleurkwota ooit sal.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Hoofartikel  |  Ksa  |  Rapport Sê  |  Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.