Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Dis Jansen teen die ‘groep van 64’ oor Afrikaans

Die stryd vir die vryheid om Afrikaans te gebruik in klaskamers of op parkbankies by die Universiteit Stellenbosch (US) kan nie bloot afgeskryf word as die laaste stuiptrekkings van apartheidsliewende troglodiete wat na wit heerskappy verlang nie, soos wat dié universiteit se prof. Jonathan Jansen pas weer probeer doen het nie. Dit kan ook nie weggewens word as ’n probleem eie aan Stellenbosch nie. Die Stellenbosse debat is eerder ’n waarskuwing aan almal dat die ideoloë van Engels-eentaligheid nie sal rus tot hul dogma in alle openbare ruimtes geld nie.

Eers na Jansen. In reaksie op klagtes deur Afrikaanse studente in minstens vyf universiteitskoshuise dat hulle in die US se verwelkomingsweek deur studenteleiers verbied is om selfs in private ruimtes Afrikaans te praat, het Jansen op LitNet verklaar hoe moeilik hy dit vind om die “angstigheid” oor Afrikaans te verstaan, wat volgens hom “beperk is tot ’n klein groep wit Afrikaanssprekendes”. Geen ander taalgroep voel so beleër nie, skryf Jansen, en “bitter min sogenaamde bruin Afrikaanssprekendes is bereid om vir die taal te veg, tot die groot frustrasie van hul wit landgenote”.

Jansen kom tot die slotsom dat taalstryders eintlik maar net sukkel om “die verlies aan mag” te verwerk, vermoedelik in 1994.

Daar is baie stemme wat nie in die US se middelklasdebat oor taal gehoor word nie.

Dan waarsku hy dat enigiemand wat glo hulle kan van Stellenbosch “vlug” Potchefstroom toe omdat dié kampus nog Afrikaans is, ’n dwaas is: “Dit is net ’n kwessie van tyd voor daardie kampus ook sal migreer na Engels as primêre onderrigtaal, namate voorgraadse innames aanhou diversifiseer. Die behoud van ’n swart kampus in Mafikeng en ’n wit-meerderheidskampus in Potch is eenvoudig nie volhoubaar nie.”

Teen hierdie narratief van uitsluit-deur-Afrikaans en Afrikaans as instrument van strukturele rassisme kom die teen-narratief te staan van 64 ondertekenaars van ’n brief aan die Maties-senaat, waaronder ’n groot aantal bruin Afrikaanssprekendes.

Die skrywers, wat vergeefs ’n besluit probeer keer het om hierdie semester die gebruik van Afrikaans in kursusmateriaal opsioneel te maak, is dit met Jansen eens dat verengelsing teen ’n snelle pas voortgaan. Maar terwyl Jansen dit verwelkom, sien die skrywers in verengelsing juis die tipe uitsluiting waarteen baie van ons eens gehoop het iemand soos Jansen hulle sou beywer.

Die senaatsbesluit om dosente naamlik hierdie semester toe te laat om net Engels te gebruik weens die druk van Covid-19, is ’n “keerpunt”, sê hulle. Dit is die tipe beleid wat as “tydelik” aanvaar word, maar dan maklik permanent word. Die ondertekenaars klee hul argument dan in die taal wat mense soos Jansen behoort te verstaan, deur die voortgesette verskraling van die Afrikaanse aanbod te beskryf as “strukturele diskriminasie teen bruin (en/of swart) Afrikaanssprekendes aan die US, iets wat ook met klas verband hou”.

“Daar is baie stemme wat nie in die US se middelklasdebat oor taal gehoor word nie omdat hulle glad nie op kampus teenwoordig is nie. 'n Verdere verskraling van Afrikaans sal dit vir hulle nog moeiliker maak om toegang te kry, iets wat ekonomiese gevolge vir hulle en hul gemeenskappe het. Dit maak min sin om internasionaal sukses te behaal, maar plaaslike gemeenskappe agter te laat.”

Die 64 skrywers betreur ook die feit dat Afrikaans – die Afrikaans wat soveel bruin en swart studente praat – pal as die taal van apartheid afgemaak word, terwyl kritiek op die taalbeleid en “mense se uitsprake oor hul taalbehoeftes as ’n ideologiese of regse aanslag” gestereotipeer word. Dít is immers presies wat Jansen al jare doen.

Dit behoort teen dié tyd duidelik te wees vir enige waarnemer dat wanneer ideoloë soos Jansen sê “insluiting”, bedoel hulle die insluiting van nie-Afrikaanstaliges, en wanneer hulle praat van “uitsluiting”, het hulle slegs die uitsluiting deur Afrikaanssprekendes in gedagte. Die idee dat die uitsluiting van Afrikaanstaliges ooit problematies kan wees, strook nie met hul eng beskouing oor magstruk-ture nie. In hul oë het Afrikaanstaliges altyd mag en is anderstaliges altyd ontmagtig. Die lot van werkersklas- bruin Afrikaanssprekendes traak die Jansens van ons dag so min as wat dit wit universiteitsbesture onder apartheid getraak het.

In ’n era waarin eise vir dekolonisering en die uitbou van inheemse kennisstelsels gemaak word, word die taal van die empire dus die enigste aanvaarbare taal van “insluiting”. Oorheersing deur Engels is “progressief” en “inklusief”, terwyl substantiewe meertaligheid nie net as polities inkorrek beskou word nie, maar ook vir al hoe meer dosente te veel moeite geword het, soos die senaatsbesluit wys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.