Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Een jaar van Covid: Kyk verby die syfers

’n Jaar gelede, op Sondag 8 Maart 2020, het Rapport hoopvol berig die eerste twee gevalle van die virus Sars-CoV-2 in Suid-Afrika herstel albei goed, en bekommerd toegekyk hoe die getal infeksies in Italië (4 600) en die res van Europa gevalle in China (80 000) inhaal. Dit sou nie meer ’n Chinese virus wees nie, is voorspel, maar ’n Europese virus.

Vandag is China die land met die 86ste meeste amptelike gevalle (89 962) teenoor 116 miljoen in die res van die wêreld.

In daardie vroeë, onwerklike dae van Maart 2020 is nog skaars 3 500 sterftes wêreldwyd aangemeld en het Rapport-lesers reggemaak om op te ruk na die Woordfees op Stellenbosch vir heerlike teater – en ’n stampvol kerk vir ’n Rapport-gesprek met Helen Zille . . .

Vandag beweer die Chinese slegs 4 636 mense is sover daar weens Covid-19 dood . . . teenoor meer as 50 000 in Suid-Afrika en 2,6 miljoen wêreldwyd.

Tog laat die kumulatiewe siektelas weens Covid-19 en ander kwale ’n mens ril. Families is uitmekaargeskeur. Selfs baie oorlewendes sit met langdurige newe-effekte opgeskeep.

Uit die nou bewese geheimsinnigheid van Chinese owerhede – ondersoekers na die oorsprong van die virus is vir ’n lang ruk vrye toegang tot Wuhan en omstreke geweier – weet ons dat net dwase die Chinese se amptelike syfers op sigwaarde aanvaar, maar die Chinese se beweerde toesmeerdery verander ongelukkig geen duit aan feite op die grond hier waar ons vandag leef nie: naamlik die meer as 50 000 sterftes in Suid-Afrika, wat boonop ’n konserwatiewe raming is.

Hier reken wetenskaplikes die siekte se tol trek dalk al bo 100 000, te oordeel aan die getal oormaatsterftes sover die afgelope jaar. Ons kan ook met sekerheid sê die impak op gesinne en gemeenskappe van die siekte alleen het ons wildste verwagtinge oortref, selfs al is die persentasie van alle Covid-19-gevalle wat sterf, op papier redelik laag.

Syfers vertel nie die volle storie van Covid-19 nie, maar is tog belangrik. Party syfers sus, maar meestal laat dit ’n mens ril.

’n Mens sou kon betoog dat die beste raming van Covid-19 se sterftekoers volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie een so ’n betreklik sussende syfer is – naamlik tussen 0,23% en 0,27% van geraamde gevalle.

Tog laat die kumulatiewe siektelas weens Covid-19 en ander kwale ’n mens ril. Families is uitmekaargeskeur. Selfs baie oorlewendes sit met langdurige newe-effekte opgeskeep.

Sommige waarnemers sal in beloftes vir ’n V-vormige ekonomiese herstel in Suid-Afrika (sien Sake-Rapport) sussende syfers raaklees – maar die etlike miljoen verlore werksgeleenthede, die R2 miljard wat daagliks geleen word om staatsuitgawes te delg, en die meer as 40% van arm gesinne wat in die jongste studies aandui hul kosgeld raak gereeld op, wek diepe kommer. Die meer as 2 500 kontrakte vir persoonlike beskermingsdrag wat plaaslik ondersoek word weens beweerde wanbesteding en korrupsie van R13,3 miljard, maak ’n mens daarenteen siek . . .

Syfers wat wys MIV en tuberkulose maak mense nie meer kwesbaar vir Covid-19 nie, is daarenteen sussend, en ’n jaar gelede het ons dit nie geweet nie. Tog het kenners twee weke gelede in Rapport gewaarsku oor ’n “katastrofiese” toename in MIV- en TB-sterftes omdat soveel derduisende lyers óf hul behandeling tydens Covid-19 en die inperking gestaak het, óf nie meer getoets word nie, en kwyn sonder dat hulle dit eers weet.

Hier is nog ’n syfer: Dit was gister dag 345 van die nasionale inperking, wat weliswaar heelwat ligter as in baie ander wêrelddele is.

In sy nuwe boek, Future Tense, (sien uittreksel in Weekliks) herinner die oud-DA-leier Tony Leon sy lesers aan die akademici in die destydse Natal wat in 1966 gevra het of wetgewing wat aanhouding sonder verhoor gemagtig het, dalk permanent sou word, selfs al was die bedoeling daarmee dat dit net tydelik sou wees. Dit het 25 jaar geduur.

Sal ons regering, vra Leon, die magte wat hy homself tydens die pandemie toegeëien het om bykans sonder parlementêre toesig te regeer, weer eendag prysgee? Dit is, soos Leon maan, die mees kritieke vraag.

Meer oor:  Tony Leon  |  Covid-19  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.