Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Eskom: Word Cyril dalk SA se Thatcher?

Die belangrikste doen-dinge op pres. Cyril Ramaphosa se wenslys is items wat hy liewer sal wil uitstel tot ná die verkiesing op 8 Mei.

Op daardie uitstel-lys is die verkleining of “hersamestelling” van die staatsdiens, soos hy dit Donderdagaand in sy staatsrede genoem het. Nog een is die verkleining van die kabinet. En dan natuurlik die lelike p-woord in ons politiek: privatisering.

En moet vir geen oomblik daaroor twyfel nie: Dit word nie so genoem nie, maar Donderdagaand se aankondigings berei die weg vir Eskom se privatisering. Gaan kyk self mooi tussen die lyne. Die omvang van die krisis by Eskom gee Ramaphosa geen ander keuse nie.

Agter in verlede jaar se begrotings­dokumente voorspel die nasionale tesourie dat Eskom in die huidige boekjaar ’n verlies van R8 miljard gaan ly en in die volgende jaar R11 miljard. Vrae aan Eskom se topamptenare daaroor het gerusstellende geluide van Jabu Mabuza, voorsitter, en Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof, laat opklink.

Die syfers is bereken voordat hulle ingegryp het; hulle het reeds stappe gedoen wat dit heeltemal verander, het hulle gesê. Hulle het selfs erken dat Eskom te veel personeel het: Die 47 000 Eskom-werkers is omtrent ’n derde te veel. “Ons sal in September sê wat ons daaraan gaan doen,” het Mabuza gesê.

Maar einde Augustus het hulle loonverhogings van 7,5% aan Eskom-werkers toegestaan, terwyl inflasie in Augustus net 4,85% was . . .

Toe skop die vakbonde ook vas, en om die kragnetwerk teen stakings en sabotasie te beskerm, het die regering geen ander keuse gehad as om die versekering te gee dat niemand in die herstrukturering afgedank gaan word nie.

Voorverlede week bars die bom toe: Eskom sê voor Nersa sy voorspelde verlies beloop R20 miljard.

Sedert die eerste botsings tussen die ANC en Cosatu in die 1990’s word ’n Margaret Thatcher-soort magstryd tussen die ANC en die land se vakbonde verwag. Dit het nie gebeur nie, want die ANC-regering sou dié magstryd lelik verloor het. Nou is die tafel uiteindelik beter daarvoor gedek.

As die regering nie ingryp by Eskom nie, word die kans elke dag groter dat hy uiteindelik hoed in die hand by die Internasionale Monetêre Fonds sal moet gaan staan. Ja, daar is te min mense wat regtig besef hoe naby ons aan dié afgrond is.

En dit wil Ramaphosa tot elke prys keer. Die enigste probleem is die tydsberekening vir die geveg.

Dalk kan hy dit nog uitrek tot ná die verkiesing. Dit is nie heeltemal onmoontlik nie.

Maar ’n kwaai botsing oor Eskom kóm. Vir seker.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.