Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Gooi eerder ekonomie, landsgrense totaal oop

’n Regering soos ons s’n, wat in April bepaal het of Suid-Afrikaners braaihoender mag eet, in Mei gesê het watter skoene jy mag koop, en in Augustus volhard het met ’n tabakverbod, sou nooit in ’n aankondiging oor die oopstel van die landsgrense skielik begin het om hom te steur aan wetenskaplike advies nie.

Dié advies, so verstaan Rapport, was dat dit nie sin maak om slegs besoekers uit sekere lande hier toe te laat nie.

Tog is Vrydag aangekondig dat reisigers na en van sekere lande met ’n hoë infeksiekoers steeds verbied sal wees in regulasies wat in die komende dae gepubliseer sal word.

Diegene vir wie dit klink na ’n veilige manier om toeriste na ons pragtige land te lok sodat hulle hier dollars en ponde, rials, roebels en roepees kan kom bestee, se aandag moet gevestig word op die praktiese probleme wat ’n vlak 1-toerismeherlewing sal keer.

Eerstens is die gehalte van lande se Covid-19-data nie op dieselfde peil nie. Dit beteken ons weet nie regtig wat die infeksiekoers is in elke land wie se besoekers ons nou vra om hierheen te reis of wegwys nie. In ’n land soos Nigerië is toetsdata glad nie beskikbaar nie, terwyl die Ivoorkus slegs 5,59 mense per 1 000 vir Covid-19 getoets het, Zambië 7,34, en Zimbabwe 7,57. Tog is al dié lande se besoekers hier welkom omdat hierdie lande kwansuis laerisiko is. Al wat hulle eintlik is, is lande sonder betroubare data.

Dít terwyl Brittanje 261 mense uit elke 1 000 getoets het, Spanje 168 en Nederland 119. Dié drie, ook groot bronmarkte vir buitelandse toeriste, kry nie dieselfde behandeling as ons Afrika-bure nie en word vir beter data-insameling gestraf.

Eerstens is die gehalte van lande se Covid-19-data nie op dieselfde peil nie.

Ja, sterftekoerse in sekere Europese lande is hoër as in Afrika, maar as die doel van ’n reisverbod is om gesonde mense toe te laat en siekes uit te hou, is al wat saak behoort te maak ’n negatiewe Covid-19-toets.

Die probleem is egter dat jy só ’n negatiewe toetsresultaat in baie lande vir ’n paar dollar kan koop al is jy positief, terwyl jy dit weens ’n skaarsste aan toetsstelle in ander lande weer glad nie kan kry nie al betaal jy wat – en al is jy negatief.

Die tweede probleem is dat die vereiste van ’n negatiewe toets binne drie dae voordat jy Suid-Afrika binnekom dit vir baie toeriste wat veelvuldige lande wil besoek, en onseker is hoe en waar hulle ’n Covid-19-toets in die hande kan kry, onhaalbaar maak om te reis.

Wetenskaplikes beklemtoon juis dat gemeenskapsoordrag lankal in Suid-Afrika plaasgevind het, waar die infeksiekoers in sekere buurte bo 40% gaan draai het, het serologiese toetse gewys. Dieselfde toetse wys ’n sterftekoers van tussen 0,3% en 0,4%, het Discovery Health die afgelope week gesê.

’n Paar buitelanders wat inglip, gaan kwalik ’n herhaling van die Junie-infeksiegolf bring.

Die behoud van ’n aandklokreël, verbod op wynverkope oor naweke en Bisantynse reëls oor byeenkomste is ook nie die resultaat van die tipe sober besinning wat ons gehoop het sou volg op die bekendmaking van die jongste ekonomiese krimp-syfers nie.

Die regering het onlangs dapper geluide begin maak oor ’n pandemie waarvan die ergste eers verby is. Gooi die ekonomie en die grense liewer heeltemal oop.

Meer oor:  Vlak 1  |  Rapport Sê  |  Covid-19  |  Reis  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.