SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Kommentaar
Rapport sê: Grond: Rede om versigtig optimisties te wees

As pres. Cyril Ramaphosa ernstig is om buitelandse beleggings na sy land te lok, het hy ’n vreemde manier om dit te wys, skryf die wêreld se toonaangewende finansiële nuusdiens Bloomberg Vrydag in ’n hoofartikel.

Inderdaad so. In ’n land met ’n reuse- begrotingstekort soos ons s’n, waar amper ’n derde van die bevolking (en dit is diegene wat wíl werk!) werkloos is en die eens magtige mynbousektor op sy knieë is, is praatjies oor die onteiening van grond sonder vergoeding die allerlaaste ding wat nodig is.

Het hierdie man dan niks geleer uit die Mugabe-fiasko in Zimbabwe nie? Ons dog dan Ramaphosa is ’n meer verantwoordelike leier as sy voorganger, die populistiese ploert Jacob Zuma? ’n Mens kan jou indink dat dít die vrae is wat deur die koppe van die Westerlinge gaan wat nog enigsins belangstel in wat aan die suidpunt van Afrika gebeur post-Mandela.

“Ek sit liewer om die tafel as wat ek op die spyskaart is.”
'n boer

Ons wat hier kniediep in die modderwater staan, vir wie politieke uitsprake ons en ons kinders se toekoms bepaal, weet egter ook dat hierdie land nie opgesom kan word in slagspreuke en presidensiële opdragte via Twitter nie.

Ons weet ons sal hierdie ding oor grondonteiening en -hervorming onder ons moet uitbaklei op ’n manier wat albei partye met iets laat om te wys – terwyl dit terselfdertyd nie die land vernietig nie.

En dit is waarom die gebeure van die afgelope week – waaroor Rapport vandag op sy voorblad en elders berig – so belangrik is. Want vir die eerste keer is daar tekens dat die stemme aan albei kante van dié debat gehoor word. Dat mense na mekaar luister eerder as op mekaar skreeu. Dis ’n belangrike begin.

Die ontwikkelinge en die toegewings van die afgelope week beteken nie die stryd is gewonne nie. Allermins.

Al wat dit beteken, is dat sekere van die belangrikste akteurs uit hul onderskeie hoeke gekom het, na vore getree het en gesê het: Kom ons praat. Soos een boer dit teenoor Rapport verwoord het: “Ek sit liewer om die tafel as wat ek op die spyskaart is.”

Talle van die ander spelers in dié drama – aan beide die linker- en regterkant van die spektrum – sal waarskynlik nooit uit hul hoeke kom nie. Ons glo nie hulle is korrek nie, maar dis sekerlik hul reg – solank hulle onthou dat die geskiedenis dikwels die gewoonte het om ongenaakbaar af te reken met radikale randfigure.

Vir nou is daar egter rede vir versigtige optimisme.

Met ’n kombinasie van volgehoue internasionale druk om volskaalse grondont­eiening sonder vergoeding te stuit en die bereidwilligheid van binnelandse rolspelers om saam te werk om ’n werkbare plan daar te stel om die grondhonger van talle swart Suid-Afrikaners te bevredig, kan ons dalk net van die Suid-Afrika van die toekoms ’n beter plek maak.

Meer oor:  Bloomberg  |  Grondberaad  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.