Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Groot skip om te draai en hoë eise wat wag

Dit is nie gewone mense se swaarkry wat regerings laat kantel nie, maar eerder swaarkry wat vererger terwyl verwagtings styg. Hierin lê die grootste bedreiging vir die nuwe regering van pres. Cyril Ramaphosa.

Want waar verwagtinge van vooruitgang vernietig is in die Zuma-jare, het Ramaphosa se koms miljoene Suid-Afrikaners ’n bietjie hoop gegee op ’n keerpunt in ’n ekonomie wat elke jaar met net 1% groei, ’n onbekwame staatsdiens vrot van korrupsie, en jeugwerkloosheid van meer as 55%.

Alles is nie verlore nie.

As sy nuwe waghonde by die nasionale vervolgingsgesag, insluitend die indrukwekkende adv. Hermione Cronje met wie Hanlie Retief vandag praat, erns maak met hul taak, sal die regstaat dalk tot ’n mate herstel word. As Pravin Gordhan sy pos behou en ook Tito Mboweni terugkeer, sal die kredietgraderingsagentskappe ons nog ’n kans gee. As die voorgenome inkorting aan staatsdienssalarisse van R30 miljard per jaar gebeur, staan ons dalk ’n kans om uit die skuldskag te ontsnap waarin ons ewig dieper sink. As Eskom oplaas ontknoop word dan hou ons dalk net die ligte aan.

Feit is, verwagtinge van verandering is nou hoër as in jare.

Maar om aan hierdie verwagtinge te voldoen, is ook moeiliker as in jare. Die mededinging om hulpbronne in ’n stagnante ekonomie is fel en Ramaphosa het reeds gewys hy het nie die aptyt vir afleggings in die staatsdiens nie. Beleggers se vertroue is allermins herstel deur ’n adjunkpresident soos David Mabuza, in wie se termyn as premier van Mpumalanga onreëlmatige uitgawes R35 miljard beloop het, en wat ’n hartklop verwyder is van die hoogste amp in die land.

Die vooruitsigte vir werklose jeug lyk allermins beter bloot omdat 50% van die kabinet vroue is. Dat die kabinet boonop gemeet aan ouderdom en geografie, en ANC-faksies en alliansievennootskappe breedweg verteenwoordigend is, los nie ’n enkele van ons land se nypendste probleme op nie, al lyk die optics hoe goed. Veel belangriker as hierdie merkers is of ’n minister en haar DG die moed het om moeilike besluite in landsbelang te neem. Daar is min van die nuwe ministers wat sowel die visie as die bekwaamheid het om ons in die regte rigting te stuur. Dis ’n kabinet waarvan die doel is om die ANC bymekaar en Ramaphosa aan bewind te hou.

Alles is nie verlore nie. Dis ’n groot skip dié om te draai, en dit is te verstane dat Ramaphosa se eerste prioriteit ’n afrekening met staatskapers en ander ellendelinge is. Maar die enigste uitkoms wat kiesers sal aanvaar, is ’n regering wat beduidend beter as sy voorgangers funksioneer.

Meer oor:  Rapport Sê  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.