Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Hef aan lê voor vir vryemark-sendelinge

Die ekonomiese inkrimping weens Covid-19 en die inperking sal baie van die probleme vererger waaroor die land se ekonome lankal wakker gelê het. Veral die probleem van armoede: Meer as 30 miljoen Suid-Afrikaners oorleef op minder as R1 200 per maand, volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika.

Beskou dié syfer saam met die verwagte verlies aan soveel as sewe miljoen werkgeleenthede (volgens die tesourie) en die vooruitsigte op ’n betaalde werk vir miljoene werklose Suid-Afrikaners lyk bitter sleg, terwyl dié wat wel ’n werk het, meestal ook armer sal word.

Die geveg woed opnuut in die ANC.

Verwag oor die volgende paar jaar dat ’n regering met dalende inkomste daarom jaarliks meer en meer gaan wil bestee aan maatskaplike toelaes om te keer dat ’n groterwordende deel van die bevolking saans honger gaan slaap. Hoe dié verhoogde maatskaplike besteding rym met ’n tekort van minstens R285 miljard aan belastinginkomste vanjaar, weet nugter. Ons sal die verskil moet leen.

Dit is dus te verstane dat stemme opklink dat ons die Covid-19-krisis moet gebruik om ’n radikaal beter ekonomie te bou – ’n ekonomie waarin dié wat geen inkomste verdien nie, ’n beskeie werk kan losslaan, en miljoene van dié mét werk se inkomste styg.

’n Beter lewe vir almal, dus. Wie kan daarmee stry?

Maar gewoonlik is dít waar eenstemmigheid eindig en mense begin twis oor die politieke vrae: soos oor watter rol die staat in die nuwe ekonomie moet speel en hoe skerp die klem op ras en herverdeling moet val.

Die geveg woed opnuut in die ANC. Ofskoon almal saamstem oor die doelwit van “radikale ekonomiese transformasie” wil elke faksie iets anders daaruit hê.

Aan die ekstreme linkerkant is mense soos Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, wat verlede Sondag getwiet het hy stem met Julius Malema saam dat die “wit” ekonomie vernietig moet word sodat iets nuut en meer inklusief in sy plek kan verrys – ’n getransformeerde feniks. In dié faksie is mense wat glo dat as die rand val jy hom bloot optel, dat swart mense se lewens volhoubaar verbeter kan word deur bloot by wit mense te vat, en dat nasionalisering noodsaaklik is.

Op die ander uiterste in die ANC sit die eksentrieke en soms eensame Tito Mboweni, wat onafhanklikheid vir die Reserwebank eis, sku is vir kru regstellende rassebeleid, en bekommerd is oor hoë staatsbesteding. Hy klink soos ’n man wat al ’n huishouding se boeke moes laat klop.

Waar staan pres. Cyril Ramaphosa?

Hy het Sondag aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum gesê dat Covid-19 die vermoë van die staat ’n “hupstoot” gegee het en hy wil daaruit munt slaan – al het Covid-19 juis die gevolge van dekades van wanbestuur in die gesondheidsektor blootgelê.

Ramaphosa sprankel oor ’n nuwe staatslugdiens en beskou die samewerking tussen die regering en private sektor in die behandeling van Covid-19-pasiënte as ’n bloudruk vir die Nasionale Gesondheidsversekering.

Selfs die “gematigdes” in die ANC glo dus dat die probleem die afgelope 26 jaar nie die beleid van staatsbeheer was nie, maar bloot dat dit nie reg geïmplementeer is nie.

Diegene wat glo dat ’n vryemarkstelsel saam met maatskaplike vangnette die antwoord is, het heelwat sendingwerk om te doen.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mzwandile Masina  |  Ekonomie  |  Rapport Sê  |  Covid-19  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.