Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Hou kop al maak al die reëls nie sin nie

Die moeilikste deel van die rampregulasies waarmee die land nou regeer word, is die dikwels sinlose strydigheid daarvan.

Soos die aandklokreël, wat vir die tweede keer die hele vermaak- en gasvryheidsbedryf keelaf sny.

Verlede week pleit James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede, dat die regering die aandklokreël ’n uur of twee later as 21:00 laat begin. Dit sal talle restaurante en ander kuierplekke ’n kans op oorlewing gee, voer hy aan.

Hy’s reg.

Dis wat hierdie regulasies is: wette. As jy dit breek, pleeg jy ’n misdaad.

Terselfdertyd stel die SA Brouerye voor dat die verbod op drankverkope opgehef word en die probleme wat drankmisbruik meebring, liewer gepak word deur einste aandklokreël met ’n uur of twee te vervroeg tot 19:00 of selfs 18:00.

Dis dalk die beste voorbeeld sover van hoe moeilik dit moet wees om hierdie regulasies te maak. Belange moet opgeweeg word.

Dit is wel soms moeilik om respek vir die wet te behou, want dis wat hierdie regulasies is: wette. As jy dit breek, pleeg jy ’n misdaad.

En dis nie wette wat deur die parlement aanvaar is nie. Dit word uitgedink deur ’n bevelsraad van kabinetsministers sonder parlementêre toesig en dikwels leedvermakerig aangekondig deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma of sy Suid-Afrikaners graag wil straf.

Daar is boonop talle voorbeelde in die regulasies wat net nie sin maak nie. Soos die definisie van ’n “strand” wat pas geproklameer is. Dis nou tot 100 meter van die hoogwatermerk sodat uitkykpunte en parkeerterreine by strande waar mense dikwels saamdrom ook ingesluit word by die strandverbod.

Wie ook dié definisie uitgedink het, het duidelik nie mooi gedink nie.

Promenades en voetpaaie is ook heelwat nader as 100 m van die hoogwatermerk. Dis openbare ruimte waar ’n verbod geen sin maak nie.

Van die strandverbod gepraat, mense op strande is in die buitelug; met genoeg ruimte en vars lug om nie sommer die virus oor te dra nie. Die teenargument is dat mense nie net strand toe gaan om te swem en weer huis toe gaan nie. Hulle hou piekniek, lê in die son, loop vriende raak, drink ’n koeldrank, en later iets sterker . . .

Ons moet ook onthou dat Covid-19 ’n ramp is, al voel dit nie elke dag so nie. En tydens rampe en oorloë het leiers magte wat hulle in ander omstandighede in ’n demokrasie nie het nie.

Moet ook nie “daardie kopdoekvrou” vlak kyk nie. Sy is ’n dokter. Die rookregulasies wat sy bykans 20 jaar gelede ingestel het, het derduisende Suid-Afrikaners van die gewoonte laat afsien. En dis ’n goeie ding wat min mense gedink het moontlik is.

In al die verwarring is die versoeking ook groot om die regulasies (wette) almal oor dieselfde kam te skeer, alles bloot te ignoreer en die 12de gebod te gehoorsaam: Sorg dat jy nie uitgevang word nie.

Jy kan egter maklik met ’n boete of iets erger opgeskeep sit. En ons polisiediens is nie bekend om sy dissipline nie. Weerstaan maar die versoeking om jou kapokhaantjie te hou.

Jy kan lelik seerkry. As jy uitgevang word, vra liewer verskoning en vra ’n kans om sake reg stel. Die punt van al die regulasies is om mense van mekaar weg te hou. Onthou dit wanneer jy moeilike besluite moet neem.

Meer oor:  James Vos  |  Aandklokreël  |  Rapport Sê  |  Strande  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.