Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Hou kop – deur by die harde, koue feite te hou

’n Jong boer word by Paul Roux in die Vrystaat vermoor. Ons kollektiewe spanningsvlak skiet op na 7 uit 10.

Die EFF dreig met “aanvalle” op wit boere by die moordverdagtes se tweede verskyning. Spanningsvlak: 8.

Later lei die EFF-leier Mbuyiseni Ndlozi ’n skare in die sing van die strydlied “Bizani iFirebrigade”, waarvan die woorde onder meer lui: “Bel die brandweer / brand hierdie Boere”.

Spanningsvlak: 9.

Binne dae, of in antwoord op Ndlozi, brand talle plase: Na raming is minstens 200 000 ha veld die afgelope week in verskeie brande verwoes oor ’n uitgestrekte gebied in die Wes-Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes. Minstens een van die brande, by Hertzogville in die Vrystaat, is gestig deur betogers wat blykbaar willens en wetens ’n brandende JoJo-tenk die veld ingerol het.

Ou foto’s op sosiale media van vragmotors wat brand is “als leuens”.

Spanningsvlak: 10 . . .

Wat die vlak van spanning, woede en frustrasie egter deur daardie gevaarvlak van 10 laat skiet, is nie al die gebeure wat nougeset gedokumenteer is nie, maar eerder fopnuus oor vragmotors met noodvoer wat op pad was na boere in die brandgeteisterde gebiede en wat dan kwansuis deur brandstigters geteiken is.

Rapport, wat op ’n weeklikse basis oor die boerderygemeenskap se lot en ook sy bydrae tot die land berig, kyk vandag na die feite.

Baie van die opruiende boodskappe wat die afgelope week rondgestuur is – meestal op WhatsApp en Facebook – oor vragmotors vol voer wat vir rampgebiede bestem was en dan deur hatige aanvallers uitgebrand word, is leuens.

Boonop is daar, buiten vir die Hertzogville-brande, tot dusver (en ons benadruk: tot dusver) min konkrete bewyse van opsetlike of polities geïnspireerde brandstigting.

Dr. Jack Armour van Vrystaat Landbou gaan verder as dit. Hy sê hulle weet van geen gevalle van brandstigting wat polities gemotiveerd is nie.

“Mense moet met feite kom wat sulke bewerings maak,” sê hy.

Hy is reg.

Ou foto’s op sosiale media van vragmotors wat brand is “als leuens”, sê hy. Dit kom van “mense wat probeer onmin saai”.

Daar is genoeg waarhede wat ons aandag as bekommerde landsburgers vereis dat ons nie deur leuens van stryk gebring of op hol gejaag durf word nie.

Die rondstuur van onbevestigde of valse brokkies oor sulke skokkende gebeure jaag nie net gemoedere tot by ’n onhoubare vlak op nie – ver bó 10! – dit het ook praktiese gevolge omdat vervoerkontrakteurs nie meer kans sien om hul vragmotors met noodvoer na die rampgebiede te stuur nie uit vrees dat hulle aangeval kan word.

Mense wat sulke boodskappe rondstuur, het nie altyd die bedoeling om skade te veroorsaak nie. Baie van hulle glo die brokkie nuus wat hulle beet het, is die waarheid.

Hulle wil bloot hê dat boere gehelp word.

Die beste manier om die boere te help wat onder moeilike omstandighede kos op ons almal se tafel sit, is om streng by die bevestigde feite te hou, en te onthou dat gerugte wat as leuens ontbloot word net olie gooi op ’n vuur wat eerder geblus moet word.

Meer oor:  Jack Armour  |  Fopnuus  |  Veldbrande  |  Hoofartikel  |  Plaasaanvalle  |  Rapport Sê
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.