Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Inperking: Pasop om staat te veel mag te gee

Wetsgehoorsame landsburgers wat Rapport lees, is oor ’n paar dinge baie seker.

Die eerste is dat Covid-19 hoogs aansteeklik is. Rapport het verlede Sondag berig dat bekendes soos Angus Buchan, eerw. Kenneth Meshoe en Steve Swart, ACDP-LP, ’n gebedsbyeenkoms in Bloemfontein bygewoon het waar vyf buitelandse gaste was wat Covid-19 onder lede gehad het.

Danksy Rapport se navraag het Buchan, Meshoe en Swart hulle laat toets. Al drie is positief getoets.

Die tweede is dat dit ons elkeen se plig is – teenoor onsself, teenoor ons geliefdes en teenoor die res van ons samelewing – om alle onnodige kontak met ander mense te staak. Onthou: Jy het dalk Covid-19, en weet dit nie.

Die derde ding is dat saamstaan as land teen die siekte en ter wille van die kwesbaarstes nou broodnodig is. Elkeen het ’n rol om te speel of ’n bydrae om te lewer.

Dit is ’n skrikwekkende idee dat die invloed skerp toegeneem het wat iemand soos Bheki Cele as minister van polisie op die lewens van gewone mense het.

Wetsgehoorsame burgers wat hierdie drie dinge weet, sal, soos dit hoort, die president se afkondiging van die staat van inperking vir die volgende drie weke respekteer, want dit is die wet en dit is ook die regte ding om te doen.

Diegene wat nog nie besef hoe ernstig die siekte is nie, kan gerus ’n subskripsie uitneem op Rapport, wat dwarsdeur die staat van inperking sal aanhou publiseer.

Ons vernaamste plig as koerant is egter om diegene met staatsmag aanspreeklik te hou. Hulle het ’n grondwetlike plig om in die belang van die publiek op te tree.

Die verdeling van mag in die samelewing het die afgelope week drasties verander. Terwyl Suid-Afrika ’n week gelede ’n betreklik eweredige verdeling gehad het van mag tussen die staat, die private sektor, die burgerlike samelewing en selfs private individue, is fundamentele menseregte van individue nou weggevat; die private sektor is tot ’n groot mate gedwing om op te hou funksioneer; en die staat kry uitgebreide ramptoestand-magte wat die res van ons uitlewer aan die diskresie van ’n polisiemag en ’n weermag met ’n bra vrot reputasie.

Dit is ’n skrikwekkende idee dat die invloed skerp toegeneem het wat iemand soos Bheki Cele as minister van polisie op die lewens van gewone mense het.

Elke besluit wat hy en ander lede van die nasionale bevelsraad neem, moet krities bekyk word. Elke konfrontasie tussen polisielede en soldate aan die een kant en lede van die publiek aan die ander kant moet gedokumenteer en opgevolg word.

Daarmee sal Rapport erns maak, terwyl ons ook vir lesers vra om te help waar hulle kan om die pandemie te stuit en dit te doen wat Rapport-lesers altyd doen – naamlik om binne hul vermoë hul naaste se lyding te verlig.

Ons vra ons lesers daarom om ons te help om die storie van hierdie ongekende inperking te vertel deur jul ervarings na nuus@rapport.co.za te stuur. Of stuur ’n WhatsApp-stemboodskap na Rapport se splinternuwe WhatsApp-nommer, 072 615 6868.

Kom ons gehoorsaam die wette; kom ons pas onsself op en help die kwesbares; maar kom ons hou die regering ook aanspreeklik wat in ons almal se naam regeer.

Meer oor:  Kenneth Meshoe  |  Steve Swart  |  Angus Buchan  |  Inperking  |  Covid-19  |  Hoofartikel  |  Rampbestuur  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.