Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Korrupsie se gom hou ANC – en SA – bymekaar

’n Week gelede nog het dit gelyk of die ANC-leierskorps (kom ons noem hulle die topvyf: almal behalwe Ace) op soek was na ’n manier om Magashule die vernedering van ’n summiere skorsing te spaar. Magashule se aggressiewe minagting vir die besluit van ANC-strukture – die nasionale uitvoerende komitee en nasionale werkkomitee – dat hy en sowat 40 ander opsy moet staan hangende die afhandeling van strafsake teen hulle, het ’n ordelike skorsing van die sekretaris-generaal onmoontlik gemaak. Nadat Magashule sy skorsingsbrief ontvang het, het hy gedoen waaroor laas Sondag gewaarsku is in Rapport – om die ANC soveel moontlik skade te berokken. Hy het Cyril Ramaphosa probeer “skors” as ANC-president, personderhoude aanhou toestaan in weerwil van die opdrag van sy eie party, en Vrydag en Saterdag probeer deelneem aan spesiale vergaderings van die topvyf en die NUK al was hy nie genooi nie. Donderdag het hy opgedaag by Luthuli-huis, maar hy is toegang geweier.

’n Mens kan dus nou met groter sekerheid sê dat die pogings om van Magashule en sy RET-trawante ontslae te raak, momentum bykry eerder as verloor; en dat daardie faksie van die ANC wat ten minste die skyn van hervorming voorhou, tans die oorhand het.

Dit bly egter onwaarskynlik dat die ANC onder Ramaphosa ooit alle krane kan toedraai waaruit patronaatskap en tenders na kaders en raadslede vloei – dit wat in ons reg dikwels as “korrupsie” bestempel word.

Die ANC se onstabiele ekwilibrium kom egter ten koste van regering en ’n professionele staatsdiens.

Die ANC, steeds ’n redelik breë ideologiese kerk, se eenheid hang juis af van sy vermoë om faksies met soms onversoenbare uitgangspunte en doelwitte bymekaar te hou deur almal soms toe te laat om te vreet by die trog. Sedert 1994 was toegang tot dié trog van staatskontrakte en staatsmag slegs moontlik as jy lid was van die ANC.

’n ANC wat geheel en al gestroop is van korrupsie verloor sy legitimiteit. Korrupsie is die gom wat die ANC bymekaar hou.

In ’n voorlegging aan die Zondo-kommissie het die politieke ontleder Ivor Chipkin die afgelope week gewaarsku nie net dat die ANC self bymekaargehou word deur aktiwiteite wat dikwels onwettig is nie, maar ook die land: “Die ANC het die verskeie fragmente van die Suid-Afrikaanse samelewing bymekaar gehou in ’n onstabiele ekwilibrium. Hulle het dit reggekry danksy ’n paradoks: Die blote toegang tot staatsposte en die hulpbronne wat faksiegevegte in die ANC aanvuur is ook die basis van sy samehorigheid . . . Die ANC se onstabiele ekwilibrium kom egter ten koste van regering en ’n professionele staatsdiens. Solank die ANC aan bewind bly, sal die vermoë van die regering om sy beleid te implementeer, aanhou afneem. Die lewe in Suid-Afrika word armer, meer veragtelik, en gevaarliker. Dit is Suid-Afrika se onmoontlike raaisel: Met demokratisering loop ons die gevaar van burgeroorlog; die status quo skep afgang. Daar is nie ’n maklike uitweg nie.”

Talle vrae verdien oorweging.

Kan die ANC ’n verkiesing wen sonder korrupsie, of sal kiesers die party te midde van ’n erge resessie daarvoor beloon dat hy jare te laat uiteindelik die regte ding doen?

As die ANC weldra die mag verloor – oor drie jaar kan die politiek immers nogal anders lyk – waarmee word die ANC vervang? Dit is dalk waardevol om te onthou dat die omverwerping ’n dekade gelede van korrupte diktature in Noord-Afrika en die Midde-Ooste dikwels eerder chaos as ’n oplewing in demokrasie gebaar het. Die siening dat “enigiets beter is as die ANC” oorleef nie ’n konfrontasie met die geskiedenisboeke nie.

Die belangriker vraag is of die res van die land – opposisiepartye, die burgerlike samelewing, die sakesektor – genoeg middelpuntsoekende momentum het om die ANC weldra as “gom” in die samelewing te verplaas, sodat die ANC val, maar Suid-Afrika staan.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Rapport Sê  |  Anc  |  Skorsing  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.