Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Malema hoop op keelvolles se stemme

Hoe naïef dink Julius Malema is Suid-Afrika se 26 miljoen geregistreerde kiesers? Of dalk is die vraag eerder: Presies hoe desperaat en gatvol dink hy is ons?

Want minstens een van daardie drie byvoeglike naamwoorde moet geld vir diegene wat in Malema se mega-lys verkiesingsbeloftes enigiets anders as ’n politieke haelgeweerskoot sien. Malema het gister so wydlopend gepraat en sulke buitensporige beloftes gemaak – soos dat huiswerkers onder ’n EFF-regering R5 000 per maand betaal sal word (deur wie?) én dat maatskappybelasting na nul afgebring moet word – dat sy toespraak betekenisloos was.

Terwyl die nuut aangekondigde minimum lone reeds vir sommige werkgewers te hoog is (selfs al bly dit vir baie werknemers werklik steeds te laag), bepleit Malema loonvloere wat werkloosheid net in een rigting sou druk en dis op. Met Malema in die Uniegebou klink dit of dit pal Kersfees sal wees: Nie net huise vir almal nie, maar ruim huise met toilette naby parke. Nie net skole nie, maar skole met tabletrekenaars vir elke kind. Op die ontbytspyskaart van manifes-opsies het Malema eerder as net die spek en eiers of die kontinentale opsie (behoede ons dit) “al die bogenoemde” gekies: werkskepping én die nasionalisering van grond (sorrie, boeta, jy moet kies); uitstekende onderwysuitkomste én die afskaffing van elite- private skole, toevlugsoorde vir rykes, swart en wit; die nasionalisering van myne én ’n ekonomie wat groei; minder korrupsie én ’n afwenteling van 60% van totale regeringsbesteding aan korrupte plaaslike regerings. En so aan.

Malema se haelgeweerbenadering is sonder verbeelding.

Aanvaar vir doeleindes van die argument dat 6% van kiesers soos in 2014 hierdie jaar in die EFF se daggawolke ’n nuwe hemel sien. Sal dit korrek wees om sonder meer te sê EFF-kiesers is naïef? Of eerder desperaat en keelvol?

Logika dikteer dat enige kiesers wat die ekonomie verstaan deur Malema se hersenskim sal sien en dat net waarlik oningeligte kiesers die EFF met ’n kruisie sal beloon. Maar dit veronderstel dat logika en sober analises van partybeleid stemgedrag rig. Dit doen meestal nie. Selfs in Westerse demokrasieë weeg stamverband (“tribe”) en etniese lojaliteite deesdae al hoe swaarder. Jy stem vir ’n kandidaat wat jy glo verstaan hoe keelvol en desperaat jy is, al klink haar beloftes hoe uitheems.

Malema se haelgeweerbenadering is sonder verbeelding. Dit is ook gevaarlik om aan desperate mense die onmoontlike te belowe. Maar dit kan tog gebeur dat meer as 6% van kiesers vanjaar EFF stem, nie omdat hulle Malema glo nie, maar omdat hulle die ANC wil straf, wie se nuwe sikspens van ’n president Vrydag die nasie gestraf het met gemeenplase soos: “Ná hierdie vallei wag verlossing en algehele vernuwing.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Eff  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.