Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Maties, só wen jy nie taalstryd

Op die vraag waarom hy uit sy pos as Matierektor bedank het terwyl hy besig was om die stryd teen die Afrikaanse “taalbulle” te wen, het prof. Chris Brink blykbaar geantwoord: “Jy kan ’n konvensionele oorlog wen, maar ’n taalstryd is ’n guerrillaoorlog en dié sal jy nooit wen nie.”

Brink, wat Stellenbosch vir Engeland verruil het, was geen groot vriend van Afrikaans nie. Dit was immers onder sy bewind wat die aftakeling van Afrikaans as akademiese taal begin het toe hy dosente toegelaat het om “gelyktydig” in Afrikaans en Engels klas te gee.

Maar anders as die huidige rektor, prof. Wim de Villiers, het Brink – soos ’n mens uit bogenoemde staaltjie kan aflei – ten minste verstaan dat mense vir wie Afrikaans belangrik is nie deur ’n blote resolusie op ’n raadsvergadering uitgeknikker gaan word nie.

De Villiers, ’n briljante medikus wat 18 jaar lank in Amerikaanse hospitale en universiteite gewerk het, het sedert hy in Desember 2014 Matierektor geword het, nooit oortuig dat hy werklik die kompleksiteite van die Suid-Afrikaanse taalomgewing verstaan nie. Binne ’n jaar nadat hy oorgeneem het, was sy plegtige beloftes en versekeringe oor Afrikaans nie die papier werd waarop dit geskryf was nie. Male sonder tal is hy uitgevang dat hy Afrikaanse gehore paai met mooi woordjies en dan omdraai om presies die teenoorgestelde te doen as dit wat hy beloof het.

As bewerings in hofstukke geglo kan word, het selfs die universiteit se eie advokate later vasgeskop.

As bewerings in hofstukke geglo kan word, het selfs die universiteit se eie advokate later vasgeskop dat hy en sy bestuurspan beëdigde verklarings oor die universiteit se taalbeleid by die hof indien “omdat hulle geen geloofwaardigheid meer het nie”. Eina.

Gegewe die universiteit se bontpratery, wanvoorstellings, manipulasie en openlike minagting van Afrikaanssprekendes die afgelope 15 jaar, was dit onvermydelik dat die hele kwessie uiteindelik voor die hof moet kom.

Die saak vir Afrikaans, wat ingebring word deur die organisasie Gelyke Kanse, wat hom beywer vir die gelykberegtiging tussen Afrikaans én Engels op Stellenbosch, sal waarskynlik vir etlike maande, dalk jare, sy pad deur die hooggeregs- en appèlhof tot in die konstitusionele hof beur.

Dit is jammer dat dit so moet wees. ’n Taalskikking wat in vriendskap en wedersydse vertroue onder die eikebome van Stellenbosch beding is, sou soveel beter vir almal gewees het.

Helaas was dit, weens ’n veelheid faktore, nooit werklik ’n moontlikheid nie. Onder die bewind van De Villiers – wat blykbaar openlik teenoor ’n raadslid verklaar het dat hy sal verkies as die universiteit slegs Engels is omdat dit “makliker” sal wees – het alle hoop van ’n vreedsame taalskikking finaal verdwyn.

Wat egter nie verdwyn het nie, is Afrikaanssprekendes – wit en bruin – se voorneme om te bly veg vir dít wat vir hulle belangrik is. Dáároor was prof. Chris Brink doodreg.

Meer oor:  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.