Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Midvaal is ’n les vir SA en die ANC

Die Midvaal-munisipaliteit het sy probleme. In Maart is ’n lid van die burgemeesterskomitee, vier direkteure en die adjunk-munisipale bestuurder by ’n skandaal oor die verkoop van poste betrek.

Tog was Midvaal die enigste munisipaliteit in Gauteng wat ’n skoon oudit by die ouditeur-generaal (OG) gekry het. Met Rapport se besoek aan die kantoor van Bongani Baloyi, die burgemeester, was die reuk van skoonmaakmiddels in die gange opvallend, eerder as die suur klankies van verval wat die meeste besoekers in munisipale kantore begroet – plekke waar die amptenary selftevrede op betaaldag sit en wag.

Politieke partye sal ook maniere moet vind om saam te werk wanneer dit in die burgery se belang is.

Die kontraste tussen Midvaal, waar die DA se Baloyi in 2013 die land se jongste burgemeester geword het, en die meeste ANC-munisipaliteite is nie ’n saak van bespiegeling nie. Dit kan in die kontrasterende oudituitkomste en in verslae oor die gehalte van dienslewering gemeet word.

In Midvaal geskied aanstellings “op meriete”, word Rapport vertel. Kandidate vir ’n pos word nie eers oor hul politieke lojaliteite gevra nie. Dis hoe dit hoort.

Helen Zille, oudpremier van die Wes-Kaap, het in ’n toespraak op 26 Junie by ’n konferensie oor grondwetlikheid deur die FW de Klerk-stigting vertel hoe die Britse staatsdiens aan die begin van die 1800’s “ondoeltreffend en vreeslik korrup” was.

“Patronaatskap en politieke gunsies het bepaal wie aangestel is in poste. En staatsamptenare het oor die algemeen sake gedoen met die staat.” Tussen 1854 en 1870 is gewerk aan ’n konsensus dat staatsamptenare onafhanklike eksamens moet skryf om toegelaat te word om die publiek te dien, en dat politieke lojaliteite irrelevant was – inbors en meriete alleen het getel.

Zille onthou dat dít ook was waartoe die ANC van Nelson Mandela hom in 1994 verbind het – ’n professionele staatsdiens.

Maar in ’n onderhoud met Rapport in April het oudpres. Thabo Mbeki gesê die party het besluit dit sou voortydig gewees het om die staatsdiens te professionaliseer. ANC-kaders in sleutelposte moes verseker Luthuli-huis se wense word bewaarheid.

Teen 2007, toe die party uiteindelik besluit het kader-ontplooiing moet end kry, was dit te laat – die ANC het die staat gekaap en die skurke die ANC.

Die burgemeester van Midvaal se pogings om die amptenary te depolitiseer is ’n voorwaarde vir die verbetering van dienslewering in elke munisipaliteit in hierdie era waarin ANC-oorheersing taan. Maar dit is nie die enigste voorwaarde nie.

Politieke partye sal ook maniere moet vind om saam te werk wanneer dit in die burgery se belang is. Vroeë tekens van pragmatiese samewerking tussen die DA en ANC in die Tshwane-metroraad verdien daarom om verwelkom te word, net soos die DA se onlangse besluit om ’n sleutelpos in die Wes-Kaapse wetgewer vir die ANC aan te bied. Saam moet hulle kaderpolitiek takel – en die radikale isoleer.

Meer oor:  Helen Zille  |  Thabo Mbeki  |  Midvaal  |  Da  |  Rapport Sê  |  Midvaal-Munisipaliteit  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.