Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Mmusi se bedanking is nié ’n krisis nie

Die DA is nie in ’n krisis omdat Mmusi Maimane bedank het nie. Mmusi Maimane het bedank omdat die DA in ’n krisis is wat die party se hoogste besluitnemende liggaam nie meer geglo het hy kan help oplos nie.

Die federale raad se besluit om op 20 Oktober met 67 stemme teenoor Athol Trollip se 52 vir Helen Zille te kies as voorsitter, selfs al was daar ook teen Zille bevindings in die pas gesirkuleerde hersieningsverslag, wys dat die raad glo net ’n koersverandering kan die party se kreeftegang stuit.

Die raad het in syfers ’n krisis gesien: DA-steun onder Indiër-kiesers het van 77,3% in 2016 na 68,7% in Mei 2019 gedaal, onder wit kiesers van 92,8% na 72,6% (20 punte), onder bruin kiesers van 75,1% na 69,7% en onder swart kiesers van 5,9% na 4%.

Toe ’n hersieningspaneel in opdrag van Maimane die redes vir die verliese gaan soek, het hulle bevindings gemaak wat Maimane se posisie onhoudbaar gemaak het.

Maimane se bedanking is nie die einde van die DA nie. Dit is die begin van ’n nuwe hoofstuk.

Die paneel het nie bevind dat hy vir ál die party se foute verantwoordelik was nie, maar dat hy nie daarin kon slaag om die akute kontradiksies in uitkyk, veral oor die raskwessie, binne die DA te versoen nie.

Dit het kiesers verwar en vervreem.

Eerder as om die morele hoëgrond te beset in die nadraai van Zille se twiets oor wat Singapoer met die nalatenskap van kolonialisme gedoen het, het Maimane self al hoe meer gereeld die raskaart begin speel.

Hy het denke oor ras en swart slagofferskap wat onuitgedaag bly binne die ANC (die party waarvoor hy tot 2004 gestem het) as ’n verweer teen sy kritici binne die DA begin inspan terwyl die ANC se denke oor ras die eintlike gevaar is vir ons land.

Dit was natuurlik nie Maimane se geloof dat swart mense die slagoffers van apartheid was wat ’n probleem was nie – want dit is onteenseglik so. Daaroor is geen debat nie. Dit was eerder die gemak waarmee hy in rastwiste – soos oor Ashwin Willemse en Schweizer-Reneke – voortydig kant gekies het eerder as om bo die geraas uit te styg en die morele leiding te gee wat baie kiesers verwag het van die leier van die land se mees veelrassige party.

Terselfdertyd is Patricia de Lille op Maimane se wagbeurt uit die DA verjaag (’n besluit waaroor Zille krities was) en het Zille aanhou optree op ’n manier wat swart agterdog oor die DA sou verskerp.

Oor swart agterdog het die paneel bevind dat diegene in die DA wat gekant is teen die gebruik van ras as ’n aanduider vir benadeling “daarvan verdink word dat hulle ’n tekort aan empatie het vir die omstandighede en gevoelens van swart Suid-Afrikaners en selfs ’n onuitgesproke teenkanting teen enige vorm van regstelling”.

Die verslag het bygevoeg: “Party mense wat ras as ’n aanduider ondersteun, word daarvan verdink dat hulle rasnasionaliste is wat bots met die party se kernbeginsels, en dat sulke mense ras gebruik om persoonlik en polities vooruitgang te maak.”

In meer as 200 voorleggings het omtrent niemand gesê hulle glo Maimane het die buitengewone talente om sulke buitengewoon moeilike probleme te takel nie.

Tog word Maimane se vertrek nou as die oorsaak van die DA se krisis beskryf en beeld Maimane homself as die magtelose slagoffer uit van ’n anti-transformasie-kliek wat teen sy edele visie van “een Suid-Afrika vir almal” gekant was. Hy glo ook nuusberigte in Rapport het hom help sink. Voorts is Zille se terugkeer kwansuis die oorsaak van die bestaanskrisis in die DA eerder as ’n desperate reaksie daarop. Maimane se bedanking, en dié van Herman Mashaba, wys kwansuis dat die DA se projek om diversiteit na te jaag, misluk het, maak nie saak hoeveel swart en bruin raadslede, wetgewerlede, en leiers op provinsiale en nasionale vlak in die party dien nie.

Die eintlike probleem is dat die party­leier wat so hoog opgegee het oor sy verbintenis tot nierassigheid, self nie daaraan getrou gebly het nie.

Maimane se bedanking, waarvoor Rapport gevra het, is nie die einde van die DA nie. Dit is die begin van ’n nuwe hoofstuk.

Die party sal moet besin oor die skade wat aangerig is deur sy najaag van nasionale mag, terwyl die taak wat die DA as liberale party opgelê is, in die eerste plek is om die ANC se manier van dink en van doen beginselvas te opponeer en in die belang van alle Suid-Afrikaners te regeer daar waar kiesers jou met ’n mandaat vertrou.

Diversiteit en die taal wat ons gebruik om oor ras en die verlede te praat, maak saak.

Maar wat ons doen om ’n beter toekoms te bou, is belangriker. Die ANC se idees hieroor is demonstreerbaar op.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.