Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Nee vir sentrale beheer en raspolitiek

Die tol wat Covid-19 eis in lewens, die lyding van naasbestaandes en van oorlewendes wat erg siek was, en die oorlewingsangs wat insgelyks veroorsaak word deur ’n verlies van inkomste weens die inperking, breek ’n mens se hart en maak dit duidelik hoe dringend die soeke na ’n tipe “uitkoms” of verligting regtig is.

Stories oor mense soos Sharief Jaffer, die oud-Rapport-man wat sy vrou én dogter binne twee weke weens Covid-19 verloor het, of die ambulansman wat in een gesin nou al ses lede weens suurstofnood moes bystaan, wys die lyding se menslike gesig (lees Hanlie se onderhoud met Sharief hier en Hendrik Hancke en Deon Raath se rit saam met ’n Covid-reaksie-eenheid hier).

Die probleem is, daar is geen “kitsoplossing” nie. Covid-19 word eers ’n bestuurbare gesondheidsprobleem as ’n meerderheid van die bevolking óf teenliggaampies ontwikkel het deur die virus op te doen óf daardie teenliggaampies danksy ’n entstof kry.

Dit is vir die meeste mense duidelik die verkieslike roete om liewer kudde-immuniteit te verkry met ’n entstof, wat vir 40 miljoen Suid-Afrikaners gekoop kon word teen ’n fraksie van dit wat die laaste dekade bestee is om die SAL te red.

Die regering beloof massa-inentings sal oor net meer as ’n week begin.

Rapport berig egter vandag dat toe lande soos Hongarye, Mexiko en Koeweit in Desember reeds begin het om hul bevolking in te ent, het die Suid-Afrikaanse regering se daarstelling van ’n geldplan vir die verkryging van entstof in samewerking met die private sektor eers begin.

Die afgelope week het Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap erken hulle het geen plan om entstof toe te dien nie en ook geen geld, personeel of infrastruktuur daarvoor nie. Tog sê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, die eerste miljoen dosisse van die Oxford-AstraZeneca-entstof sal “binne dae” aankom in die land. Ondanks ’n volslae gebrek aan harde feite en detail in die planne belowe die nasionale regering nie net dat inentings op massiewe skaal reeds op 3 Februarie sal begin nie – oor net meer as ’n week – maar die regering dring ook op sentrale beheer aan oor die verkryging van entstowwe vir die hele land.

Wat die verspreiding daarvan betref, word daar intussen flink planne beraam dat swart ekonomiese bemagtiging deel van die transaksies moet wees, het pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week in ’n ANC-vergadering met swart sakelui gesê.

’n Plan wat reeds sonder detail is, gelos is vir te laat en miljarde gaan kos, loop nou die gevaar om verder vertraag te word; nie net deur burokratiese onbeholpenheid nie, maar deur kaders wat skep. Dis verby gek.

Terwyl dit bemoedigend is dat die regering nou kan toon ooreenkomste is gesluit met vyf verskaffers vir sowat 34,8 miljoen dosisse entstof vir sowat 20 miljoen mense, is dit noodsaaklik dat die regering oop kaarte begin speel oor presies wie genader en gekontrakteer sal word om van die grootste logistieke operasie in ons landsgeskiedenis ’n sukses te maak. Nie net behoort die staat private entiteite toe te laat om vinniger te beweeg as wat staatsdepartemente kan nie, maar die Wes-Kaap behoort toegelaat te word om voorraad van entstowwe vir sy gesondheidswerkers te verkry as hy dit vinniger as Pretoria kan doen. Dit maak sin. Dit red lewens.

Mkhize en Ramaphosa moet pasop dat hul obsessie met sentrale beheer en raspolitiek nie ook die inentingsprojek beduiwel nie.

Meer oor:  Inentings  |  Rapport Sê  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.