Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Om vir almal se regte op te kom, só bou ’n mens

Toe Julius Malema in 2014 gedreig het met oorlog in Gauteng, en in 2016 gewaarsku het hy sal die regering van Jacob Zuma verwyder oor die “loop van ’n geweer”, het almal wat ook vyande van Zuma was, geswyg, want dit was polities gerieflik om dit te doen. Ook sy belofte in 2015 om alle onbewoonde grond te laat beset, is geduld deur dié wat aanvaar het ten minste sal hul eie stukkie grond in die stad veilig wees. Toe Malema sê hy vra “nog nie” dat wit mense geslag word nie, het diegene wat wrokkig is omdat wit mense nooit ná apartheid die slagoffers van vergelding geword het nie, en wat verlig was dat hulle nie self in sy visier was nie, ook geswyg.

Selfs die Menseregtekommissie het hovaardig verklaar dis nie haatspraak nie, want Malema is swart en swart mense het nie mag nie. Teenstand teen Malema het eers begin oplaai toe hy ook Indiërs soos Pravin Gordhan en joernaliste soos Karima Brown en Ferial Haffajee begin teiken het. Skielik het meer Suid-Afrikaners gesien wat wit mense van die begin af gesien het: dat Malema ’n hater is.

Maar ook swart rassisme is verkeerd.

Duarte het slegs kapsie gemaak teen ANC-raspolitiek toe dit diegene begin affekteer het wat sy as haar “eie mense” beskou.

Insgelyks is die ANC se verrassing van die samelewing oor die jare geduld totdat dit duidelik begin word het dat nie net wit mense die slagoffers van raspolitiek is nie. Die ANC se ideologie van demografiese verteenwoordigendheid en die onkritiese napraat van die 80-9-9-2-formule, wat bepaal dat elke bevolkingsgroep oral verteenwoordig moet word in presiese verhouding tot die aantal swart, bruin, wit en Indiërmense in die land, is net uitgedaag deur kommentators wat bereid was om as “regs” verguis te word, terwyl die dapperste vegters teen raspolitiek nog nooit “regs” was nie.

Die liberales wat voor 1994 betoog het dat ras nie behoort saak te maak nie het ’n al hoe minder gewilde minderheid geword omdat hulle ook ná 1994 die rasdogma van die ANC bevraagteken het. Dit was altyd ’n moeilike standpunt om te handhaaf, maar dit was altyd die regte een.

Die afgelope week het Jessie Duarte, wat nou die dag nog Zindzi Mandela se ondeurdagte tirade teen wit mense goedgepraat het, skielik gesê die ANC is “rassisties” en “stamgebonde” omdat die party swart mense voortrek en bruin mense miskyk.

Maar sy het dit nie gesê omdat sy nierassigheid voorstaan nie – anders sou sy ook kapsie gemaak het teen die raspolitiek van haar held, Jacob Zuma, en die rassistiese ambassadeur in Kopenhagen. Duarte het slegs kapsie gemaak teen ANC-raspolitiek toe dit diegene begin affekteer het wat sy as haar “eie mense” beskou, net soos alarm dikwels ook eers oor Malema gemaak is deur mense wat aan groepe behoort wat die teikens van sy haat geword het.

’n Mens kan nie ’n land op so ’n grondslag bou nie. ’n Mens kan nie net vir ’n “beginsel” opkom wanneer jy of jou “groep” benadeel word nie. Dis tyd dat ons almal vir mekaar se regte opkom – álmal van ons.

Meer oor:  Julius Malema  |  Jessie Duarte  |  Rapport Sê  |  Rassisme  |  Menseregte  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.