Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Ongeag wat, OB is ’n nul op ’n kontrak

Die loopbaan van adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, is besig om te vergaan in ’n stormsee van politieke verstrengeling en irrasionale gedrag wat begin het om ’n mediese dimensie te kry.

Die naweek het sy gespartel in ’n Twitter-moles wat wit regters gedemoniseer het. Vroeër in die week het sy op Twitter gevra dat oorlede Winnie Madikizela-Mandela vir haar à la Julius Malema “ ’n teken” stuur omdat sy (Mkhwebane) kwansuis ook deur “Stratkom” geteister word. Sy het ook al gesê “net God” kan haar uit haar pos verwyder. Duidelik ag sy haar verhewe bo die reg.

Die regters draai nie doekies om nie. Frases soos “versuim”, “verstaan nie” en “is onkundig oor die reg” duik oral op in die uitsprake.

Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie begin oor ’n maand met ’n ondersoek na Mkhwebane se geskiktheid vir haar amp. Bloot op grond van haar geboekstaafde gedrag en bisarre uitlatings tot dusver behoort daar geen twyfel te wees wat die bevinding moet wees nie. Moet egter nie verbaas wees as die ANC se toksiese faksiepolitiek Mkhwebane ’n wegkomkans gee nie. Daar is meer as net ’n vermoede dat Mkhwebane ’n pion is van die faksie wat pres. Cyril Ramaphosa opponeer en ondermyn.

In hofstukke in sy gedinge teen Mkhwebane is Ramaphosa ironies genoeg ondubbelsinnig oor die bedenklike wyse (volgens hom) waarop sy haar ampspligte nakom. Sou ’n ANC-faksie in die justisiekomitee wat Mkhwebane sal ondersoek in September die strydbyl namens haar opneem, sal hulle in werklikheid die hoofleier van die party repudieer. Maar nou ja, die soort anomalieë is deesdae alledaags in die ANC.

Selfs al oorleef Mkhwebane die parlementêre proses, sy het eenvoudig geen kapitaal van enige aard meer oor om doeltreffend te bly funksioneer in daardie kritiek belangrike amp nie, waar sy net kan slaag as sy oor morele statuur beskik en kundig en geloofwaardig is. Mkhwebane het niks hiervan nie. Sy’s onstabiel.

Uitsprake wat haar bevindings en remediërende opdragte ter syde stel, verlaat die howe nou met eentonige reëlmaat. Die regters draai nie doekies om nie. Frases soos “versuim”, “verstaan nie” en “is onkundig oor die reg” duik oral op in die uitsprake.

Sou Mkhwebane in die parlement oorleef en in haar pos aanbly, sal sy bes moontlik voortaan meer tyd aan hofsake bestee as aan die bekamping van korrupsie en magsmisbruik, haar eintlike werk. Boonop is daar nou beweegruimte vir die plegers van ernstige vergrype omdat sy so kwesbaar is. Hulle sal weet hulle kan wegkom, nie uit verdienste nie, maar bloot omdat Mkhwebane so reddeloos onbekwaam is. Sy is ’n nasionale verleentheid, aan ons gegee met komplimente van die ANC.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.