Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Ons mooi platteland kán floreer; sal dit?

Dit word gereeld gesê dat Suid-Afrikaners in hul hart plattelanders is.

Daar steek natuurlik waarheid in. Die oorgrote meerderheid van stedelinge se wortels lê in die platteland – óf omdat hulle daar gebore is óf omdat hulle steeds grootouers, ’n oom of tante het wat êrens op die wye, uitgestrekte vlaktes ver van die stadsgewoel bly.

So, waarom, as die meeste van ons in so ’n intieme verhouding met die platteland staan, word ons klein dorpe en landelike gebiede so afgeskeep? Waarom word daar so argeloos omgegaan met die behoeftes en vrese van plattelanders? Waarom moet landelike gemeenskappe vir dekades al smeek dat iets gedoen word aan landelike veiligheid?

Plaaslike regerings hoef nie in die gemors te wees wat dit is nie.

En waarom, waarom doen die nasionale regering niks om die agteruitgang van plaaslike munisipaliteite te stuit nie?

Die jongste verslag deur die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu (waaroor ons hier berig), oor die stand van plaaslike regering laat die hare rys.

Slegs 20 munisipaliteite – die meeste van hulle onder DA beheer – kon vanjaar skoon oudits kry. Dit is weliswaar ’n verbetering van die slegs 13 wat dit tien jaar gelede kon regkry, maar helaas is dit ook waar die goeie nuus ophou.

Die oudit-uitkomste van 76 munisipaliteite het die afgelope drie jaar verswak, terwyl net 31 verbeter het. 28 munisipaliteite se boeke is in so ’n warboel dat hulle nie eens finansiële state kon indien nie!

Soos ’n goeie geneesheer lê Makwetu sy vinger direk op die kwaad en doen dit sommer reeds in die titel van sy verslag: “Not much to go around, yet not the right hands at the till.”

Plaaslike regerings hoef nie in die gemors te wees wat dit is nie. Anders as provinsiale owerhede het plaaslike rade immers die vermoë om hul eie geld te genereer deur die hef van erfbelasting en die herverkoop van water en elektrisiteit. Maar om water en elektrisiteit te verkoop moet rekeninge uitgestuur en skuld ingevorder word. En om jou inkomste uit erfbelasting te laat styg moet eiendomspryse in jou dorp bly styg. En dít sal net gebeur in ’n dorp met skoon strate en gereelde dienslewering.

En dié kringloop van alles wat goed is, kan net gebeur as die beste en mees bekwame mense aangestel word om dit alles te laat gebeur. Dit behoort nie so moeilik te wees nie.

Maar gaan dit gebeur? Skynbaar nie. Die verantwoordelike minister, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het verlede maand nog in ’n toespraak verklaar dat kaderontplooiing “goed is, maar dit moet behoorlik gedoen word”. “Ontplooides moet die vaardighede en vermoë hê om die werk te kan doen.”

So, daar het jy dit. Daar is duidelik geen salf aan te smeer nie.

Intussen bloei die platteland dood.

Meer oor:  Kimi Makwetu  |  Rapport Sê  |  Hoofartikel  |  Munisipaliteite  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.