Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Ons sidder oor situasie met taal by Maties

Die sogenaamde “taalstryd” van die Universiteit Stellenbosch bereik die komende week ’n nuwe laagtepunt met die vooruitsig dat ’n regter in die hooggeregshof in Kaapstad Vrydag moet beslis of die universiteit sy eie raad se taalbeleid en -plan toepas.

Dis belangrik om dié feit helder en ondubbelsinnig te stel: AfriForum se hofaansoek is kennelik nie ’n poging om, soos ’n Stellenbosse kenner van die etiek die afgelope week aspris beweer het, Stellenbosch “tot elke prys Afrikaans te maak nie”.

Dit is bloot ’n aansoek om die hof te vra om die universiteit te dwing om by sy éiereëls en regulasies te hou. As sy taalbeleid dan onwerkbaar is – en daar is seker ’n saak uit te maak dat daar in sommige kursusse so ’n oorweldigende vraag na Engels is dat dit onprakties is om die lesing in Afrikaans te herhaal – staan dit die universiteitsraad vry om sy eie taalbeleid te verander. Maar tot tyd en wyl het studente die reg om te verwag dat die US sy eie beleid nakom.

Wat ewe kommerwekkend is, is dat selfs die raadsvoorsitter, George Steyn, by implikasie saamstem dat AfriForum ’n goeie saak het as hy aan Rapport erken dat dit “blyk” dat daar van die raad se neergelegde taalplan afgewyk word. As selfs jou eie raadsvoorsitter bereid is om in die openbaar te verklaar jou saak is swak, wonder ’n mens of dit hoegenaamd in die US se belang is om AfriForum se aansoek teen te staan.

Dat ’n besluit wat in die universiteit se fakulteit van regsgeleerdheid geneem is medeverantwoordelik is vir die dreigende interdik, is ewe ongelooflik.

Ons herhaal, die saak was nog nie voor die hof nie en dit is derhalwe voortydig om nou al die universiteit skuldig te bevind, maar net soos

Caesar se vrou, behoort een van die land se voorste regsfakulteite nie eens verdink te word dat hy teenstrydig met die gevestigde reëls van goeie korporatiewe bestuur optree deur sy eie universiteitsraad se besluite in die wind te slaan nie.

Wie het die fakulteit – volgepak met van die land se voorste regsbreine – oorreed dat sy nuwe “oorwegend Engels”-taalbeleid in ooreenstemming is met ’n raadsbesluit wat bepaal dat Afrikaans en Engels gelyke status het?

Is dit waar – soos wat in hofstukke beweer word – dat prof. Sonia Human, die privaatregkenner en dekaan van die fakulteit, aan studente sou gesê het dat die fakulteit se taalplan sou geld tot tyd en wyl die rektor en sy bestuurspan die taalplan en -beleid van die universiteit “verander” het? Weet Human hoegenaamd dat die verandering van die taalbeleid van ’n universiteit deur ’n nasionale wet bepaal word?

Almal vir wie Stellenbosch na aan die hart lê, behoort te sidder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.