Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Regstelling ja, maar nie weer ’n rasregister

Die geskiedenis is ryklik besaai met voorbeelde waar rasseklassifikasie nie net onwerkbaar geblyk het nie, maar dikwels die begin van groot onheil was.

Die apartheidsregering het in sy vasberadenheid om almal te klassifiseer ondenkbare vernedering en pyn veroorsaak. Die potloodtoets sal altyd ’n simbool van dié absurde en immorele hoeksteen van apartheid bly.

Want hoe klassifiseer jy mense wat nie geklassifiseer wil word nie?

Dit was ’n groot stap vooruit toe die Bevolkingsregistrasiewet in die 1990’s uiteindelik afgeskaf is. Daarmee is ’n groot stuk skande stopgesit.

Die feit is dat sonder rasklassifikasie kan swart ekonomiese bemagtiging in sy huidige vorm nie toegepas word nie.

Dit het ook die basis tot niet gemaak op grond waarvan die apartheidsregering wit mense dekades lank bevoordeel en die res agtergelaat het.

Aan dié geskiedenis is amptenare by die Wes-Kaapse departement van onderwys die afgelope week op ’n onaangename manier herinner toe hulle probeer het om ’n onderwyser van Oudtshoorn te vervolg omdat hy homself as “African” geïdentifiseer het.

Glen Snyman, wat volgens die departement voorheen aangedui het hy is bruin, het op sy CV geskryf hy is “African” toe hy in 2017 om bevordering aansoek gedoen het.

Toe dit dié week rugbaar raak die departement het hom van bedrog aangekla, was die gort gaar. Voor in die koor van die kritici teen Snyman se vervolgers was die EFF wat sê dis sy goeie reg om as “African” te identifiseer. Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys het blitsvinnig ingegryp en die saak teen Snyman is teruggetrek.

Die departement se terugkrabbel los die probleem natuurlik nie heeltemal op nie.

Die feit is dat sonder rasklassifikasie kan swart ekonomiese bemagtiging in sy huidige vorm nie toegepas word nie. Ras word elke dag gebruik om aansoeke vir werk, vir bevordering, vir tenders, vir beurse, vir plek in sportspanne en vir universiteitstoelating te oorweeg.

Maar in die afwesigheid van ’n bevolkingsregister waarop ’n ras aangedui word of ’n potloodtoets en ’n manier vir mense om hul “klassifikasie” te verander as hulle meen dis foutief, val die hele kaartehuis inmekaar.

Al wat Snyman in wese gedoen het, is om sy reg uit te oefen om sy eie identiteit te bepaal en homself te identifiseer soos hy wil.

Die vraag is natuurlik: As Snyman weer om ’n pos aansoek doen, sal sy reg om sy eie identiteit te bepaal gerespekteer word? Of sal die paneel wat sy aansoek oorweeg maar stilweg onder mekaar besluit tot watter “groep” hy behoort en of hy daarom vir die pos kwalifiseer of nie?

Niemand betwis dat Suid-Afrika met ernstige historiese ongelykhede sit én dat dit reggestel moet word nie. Maar daar moet ’n beter manier wees as die stomp instrument van rasseklassifikasie.

Meer oor:  Glen Snyman  |  Hoofartikel  |  Rapport Sê  |  Rasseklassifikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.