Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Rugby op TV: Skielik wil die DA ‘score’

Rugbykykers het goeie rede om teleurgesteld te wees omdat die Springbokke se Wêreldbeker-wedstryde nie op SAUK-TV te sien gaan wees nie, al het die Bokke se veldtog so futloos begin.

Die vernaamste rede hiervoor is dat die SAUK deur kaderontplooiing en wanbestuur verwoes is. Die openbare uitsaaier het tot op die nipper gewag om vir uitsaairegte te smeek by MultiChoice, wat dit nie besit nie maar ten duurste by Wêreldrugby gekoop het. Toe puntjie by paaltjie kom, kon die SAUK nie die markprys vir regte betaal nie en het hy sy aanbod onttrek.

Nou wil die SAUK hê ons moet glo hy is die slagoffer van gulsige kapitaliste by MultiChoice, wat nie bereid is om in die naam van nasiebou die Bokke se wedstryde gratis weg te gee nie.

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan rugby op die SAUK nie, maar ’n tekort aan werksgeleenthede en winsgewende maatskappye...

Die SAUK het ’n bondgenoot gevind in die Demokratiese Alliansie (DA), wat in die woede van miljoene rugby-ondersteuners ’n geleentheid gesien het om politieke punte aan te teken.

Uit “empatie vir dié wat nie kan betaal nie” het die DA MultiChoice gevra om Bokwedstryde gratis te laat uitsaai, al is dit ure nadat die aksie verby is.

“Ons verstaan dat die regte . . . finansieel voordelig is vir MultiChoice, veral omdat hulle moet terugkry wat hulle daarvoor betaal het. Maar in die gees van nasiebou behoort Multi­Choice minstens te oorweeg om die wedstryde waarin die Springbokke speel met die openbare uitsaaier te deel. Dit sal help om goeie trou teenoor die mense van Suid-Afrika te demonstreer en sal ’n bydrae tot nasiebou maak,” sê die party in ’n verklaring.

“MultiChoice moet nie net hul balansstaat in die oog hou nie, maar hul korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid teenoor die mense van hierdie land. #PatriotismOverProfits.”

Dit klink nes die ANC. Behalwe dat die ANC dié ronde uitgesit het.

Phumzile van Damme, die DA-LP wat in die portefeuljekomitee oor kommunikasie dien, het selfs ’n boodskap op Twitter herhaal dat Multi­Choice “geen maatskaplike gewete” het nie. Athol Trollip, die party se voorsitter, het ook aan die uitstorting van soetsappighede deelgeneem en die party self het die veldtog onderskryf.

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan rugby op die SAUK nie, maar ’n tekort aan werksgeleenthede en winsgewende maatskappye wat vinnig genoeg groei om nog mense in diens te neem. Sonder winste is daar nie poste nie.

MultiChoice se bydrae tot nasiebou is om miljarde aan sportontwikkeling te bestee en werk te verskaf aan duisende Suid-Afrikaners.

Die DA se naakte opportunisme wys hoe desperaat die party vir aandag is. Dit is tragies en pateties.

Meer oor:  Phumzile Van Damme  |  Rapport Sê  |  Sauk  |  Multichoice  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.