Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: SA betaal prys vir eenheid in die ANC

Eenheid in die ANC is sy belangrikste taak, het pres. Cyril Ramaphosa verskeie kere gesê sedert hy staatshoof geword het.

Dit word baie gesê dat die ANC ’n breë kerk is – ’n organisasie waarin mense van verskillende rassegroepe, gelowe, taalgroepe en ideologieë tuis is. Maar 25 jaar al verbrokkel eenheid in dié “kerk”, beginnende met die ekonomiese beleidsbesluite wat die ANC genoodsaak is om te neem in die 1990’s. Niemand het egter meer gedoen om eensgesindheid in die ANC te laat verbrokkel as Jacob Zuma en sy staatska­pers nie.

Die rand het binne vier dae met 3,8% verswak.

Die onafhanklikheid van die Reserwebank, wat deur Tito Mboweni opgebou is, was egter só sterk verskans dat dit een van min instellings is wat selfs die Zuma-tydvak ongeskonde oorleef het, al word die bank op elke ANC-beleidskonferensie aangeval.

Vroeër was die aanvallers uit die Cosatu-SAKP-dampkring, wat vas glo jy moet ’n land ontwikkel deur ’n monetêre beleid wat inflasie ’n kans gee. Maar diegene wat verlede naweek op die ANC se lekgotla die debat ongemerk gekaap het, is die reste van die Zuma-kamp in die party. Geldgieriges wat vinnig wil ryk word. Dit is dieselfde mense wat Ramaphosa se planne vir ’n verkleinde kabinet verongeluk met hul aandrang op ’n spul oorbodige adjunkministers. Ter wille van “eenheid”.

En Dinsdag gaan verdraai Ace Maga­shule, hoofstroper sedert Zuma se tyd, die ANC se boodskap deur aan die wêreld te verkondig dat die ANC besluit het om die Reserwebank se mandaat te verander.

Dit beteken net een ding: wegholinflasie. En valutamarkte het presies só gereageer. Die rand het binne vier dae met 3,8% verswak. Miljarde rande het verlede week dollars geword en die land verlaat.

Selfs toe Ramaphosa Donderdagmiddag laat ’n verklaring uitreik wat dit diplomaties, maar in geen onseker taal nie, duidelik maak dat Magashule gelieg het, het dit nie die uitstroom van kapitaal gekeer nie. Dinge het eers die naweek effens bedaar.

Dis die prys wat Suid-Afrika nou betaal vir die eenheid in die ANC. Dis die onaangename werklikheid waardeur Ramaphosa en sy bondgenote soos Gwede Mantashe en Zizi Kodwa in die gesig gestaar word.

Hulle moet weet dat die oomblik een of ander tyd gaan aanbreek waarop hulle van Magashule en sy meelopers ontslae sal moet raak. Anders gaan daar van hulle ontslae geraak word.

Hulle het ons vooruitgang belowe by die stembus. Dit is allesbehalwe wat Suid-Afrika die afgelope week gekry het. Dis tyd vir Ramaphosa om tussen ANC-eenheid en die land se toekoms te kies.

Meer oor:  Rapport Sê  |  Anc  |  Hoofartikel  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.