Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Staat wil besluit hoe jy jou gesin gesond hou

Die grootste probleem met die ANC is nie dat die party korrup is nie; selfs nie dat die party al so met raspolitiek flankeer het nie.

Die probleem is eerder die regerende party se staatgesentreerde wêreldbeskouing en sy diepe agterdog jeens die vrye mark.

Tesame met mekaar verseker dié oudmodiese standpunte dat Suid-Afrika nooit vooruit sal gaan nie. Want selfs al hou die ANC eendag op met steel, is daar nog geen teken dat die party bereid sal wees om vrywillig af te sien van sy onkreukbare geloof daarin dat die staat alle hefbome van mag moet beheer nie. Hy gee slegs beheer oor iets prys as dit waaraan hy probeer klou het – soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens – eintlik reeds opgehou het met bestaan en alle waarde verloor het. Niks ontsnap ooit lewend uit die ANC se omhelsing nie.

Die eerste slagoffers van hierdie waansinnig regressiewe revolusie, soos meestal wanneer bestaande ordes morsig meegee, is lae-inkomste-gesinne wat nie mediese fondse kan bekostig nie en in die gange van staatsklinieke doodbloei.

Die ANC-regering glo, soos ons nou weer sien met die skokbesluit van die Raad op Mediese Skemas om siekefondse en versekeraars te verbied om sekere produkte aan lae-inkomstehuishoudings te verkoop, dat gewone Suid-Afrikaners nie vertrou kan word om keuses oor hul eie gesondheidsorg uit te oefen nie. Die ANC-regering glo dat veral arm swart mense soos kinders is: Hulle sal voorgeskryf word watter mediese dienste om te gebruik deur ’n staat wat tegelyk welwillend en onbevoeg is. Dit is ’n staat wat nou vir arm gesinne verbied om oplossings in die mark te koop wat die staat hoop om eendag deur middel van daardie boosaardige misbaksel, die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), vir hulle te bied, sonder dat daar enige aanduiding is dat die staat die vermoë, kundigheid of geld het om dié belofte na te kom. Terwyl die SAL op die rand staan om gelikwideer te word en Eskom nie die ligte kan aanhou nie verwag die ideologies blinde ANC-regering landsburgers, arm en ryk, moet aanvaar die NGV kan wérk.

Terwyl geen mens by haar volle verstand nog SAL-vliegkaartjies koop nie en terwyl gesinne hulleself al jare al hoe minder afhanklik maak van staatsdienste soos elektrisiteit, sekuriteit en opvoeding, wil hierdie regering jou vryheid steel om te kies hoe om jou gesin gesond te hou.

En nie net joune nie: Die eerste slagoffers van hierdie waansinnig regressiewe revolusie, soos meestal wanneer bestaande ordes morsig meegee, is lae-inkomste-gesinne wat nie mediese fondse kan bekostig nie en in die gange van staatsklinieke doodbloei.

Want die ANC-staat glo hy weet wat vir hierdie stemvee goed is terwyl alle bewyse – elke enkele stuk data oor hierdie land se tragiese en seker kreeftegang die Derde Wêreld in – wys dat staatsbeheer met reëlmaat lei tot nepotisme, vermorsing, diefstal, en die verskraling van doodgewone mense se vryhede om self te besluit hoe om hul lewens te lei. Die ANC-staat duld verliesmakende dinosourusse soos die SAL vir dekades, maar weier om te aanvaar dat private maatskappye met winsbejag dalk deel van die oplossing vir ons probleme is.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Rapport Sê  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.