Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Talle hoop werkers staak SAL tot in sy graf

Dit is tyd dat die regering terugstaan en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) toelaat om in duie te stort – iets wat lankal sou gebeur het as die SAL nie teen ’n obsene som deur belastingbetalers, ryk en arm, gesubsidieer is nie.

Die SAL is eintlik reeds bankrot, het die parlement die afgelope week gehoor. Skuld van R28 miljard het die laaste 13 jaar opgeloop. Die lugdiens verloor R500 miljoen per maand en die domastrante staking sedert Vrydag kos die SAL ’n bykomende R50 miljoen per dag.

Die enigste manier om die SAL aan die gang te hou is om nog miljarde in die staatskas te gaan vind. Dis miljarde wat daar nie is nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die situasie mooi opgesom toe hy verlede maand in die parlement gesê het: “Ons het in werklikheid gekies om die middelklas en rykes te subsidieer om in die land en ander dele van die wêreld rond te vlieg, eerder as doodgewone werkers uit die townships wat in stokou treine sit elke dag, treine wat dikwels gaan staan, sodat hulle laat is vir werk.”

Die ekonomie sal sonder die SAL oorleef en dosyne ander lugdienste kan dadelik die roetes oorneem wat die SAL tans bedryf.

Op die wagbeurt van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is die SAL se bestuur toegelaat om jaar ná jaar buitensporige verhogings toe te staan aan militante vakbonde – verhogings wat die SAL nie kon bekostig nie.

Dit het Gordhan nooit gepla nie, net soos dit hom nie by Eskom gepla het nie: Dit was ook hy wat verlede jaar vir Phakamani Hadebe, die destydse uitvoerende hoof, gedwing het om ’n 0%-verhoging aan Eskom-werkers terug te trek en ’n verhoging van ver bo inflasie toe te staan.

Net so het die SAL se bestuur aan die begin van die afgelope week nog 0% aangebied aan werkers wat gedreig het om te staak, en dit tot 5,9% opgestoot – gemaklik bo inflasie – toe gesprekke bietjie warm word.

Nou eis die vakbonde 8%.

Irvin Jim, hoofsekretaris van die National Union of Metalworkers (Numsa), het Saterdag voor hul gesprekke met die SAL se bestuur stakende werkers geloof en gesê dat hulle “geskiedenis maak”.

Dit is inderdaad baie mense se hoop: Dat die werkers “geskiedenis maak” deur op aandrang van vetgevrete vakbondbase ’n staking vol te hou wat die SAL finaal die graf in stuur.

Die vakbonde, met die steun van die ekonomies ongeletterde EFF, weet dat die sluiting van die SAL die bewysbare gevolg van die staking kan wees.

Gordhan het Donderdag in New York gesê vakbonde kan hulle maar regmaak vir “moeilike besluite” en dat die lugdiens, anders as Eskom, nie “te groot” is om van kant te maak nie.

Die ekonomie sal sonder die SAL oorleef en dosyne ander lugdienste kan dadelik die roetes oorneem wat die SAL tans bedryf, plaaslik, in Afrika, en na ander vastelande.

Belastingrande wat op die SAL gemors word, kan veel beter aangewend word.

Meer oor:  Rapport Sê  |  Sal  |  Staking  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.