Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Teen 2022 se Paasfees moet ons vry wees

Miljoene Suid-Afrikaners vier hul tweede pandemie-Paasfees. Hierdie keer darem in omstandighede wat beter as ’n jaar gelede is.

Een rede waarom Paasfees vanjaar anders voel, is dat die geheimsinnige Covid-19-bevelsraad besluit het om Suid-Afrikaners veel meer vryhede “toe te laat” as wat ’n jaar gelede die geval was. Ons mag rondbeweeg, behalwe tussen middernag en 04:00, en kan darem dwarsdeur die Pase ’n glas wyn by ’n restaurantete geniet. Vergelyk dit met ’n jaar gelede, toe ’n gekoördineerde veldtog van verdrukking en geweld op die nasie losgelaat is omdat ons hospitale nie gereed vir ’n toeloop van Covid-19-gevalle was nie. Normale lewe en menseregte is opgeskort. Polisie het met waterkanonne op diegene in arm buurte geskiet wat dit buite hul huise gewaag het. Winkels was bottoe; meeste werkplekke was verlate; grense was gesluit. Boonop was onsekerheid oor Covid-19 self op ’n hoogtepunt.

Vanjaar is sommige van die onsekerhede nog met ons, maar die regering het klaarblyklik in die uiters benarde ekonomiese data en die lae voorkoms van Covid-19 die afgelope maande ’n kans gesien om die nasie oor Paasfees bietjie van ’n blaaskans te gee. Geen van die streng inperkingsmaatreëls wat voorspel is, het gematerialiseer nie. Dis goed so.

’n Jaar gelede al het Rapport gewaarsku ons durf die staat nie te veel magte tydens die krisis gun nie, maar dit is presies wat gebeur het...

En tog, ’n caveat: Die feit dat die Covid-19-bevelsraad steeds kragtens ramptoestandregulasies eintlik maar na willekeur kan besluit watter van Suid-Afrikaners se onvervreembare vryhede goedgunstig herstel gaan word en watter nie, is ’n groot probleem. Selfs top-regslui beskryf dit deesdae so.

’n Jaar gelede al het Rapport gewaarsku ons durf die staat nie te veel magte tydens die krisis gun nie, maar dit is presies wat gebeur het: “Die verdeling van mag in die samelewing het drasties verander . . . Fundamentele menseregte van individue is nou weggevat; die private sektor is tot ’n groot mate gedwing om op te hou funksioneer; en die staat kry uitgebreide ramptoestand-magte wat die res van ons uitlewer aan die diskresie van ’n polisiemag en ’n weermag met ’n bra vrot reputasie.”

Steeds duur die ramptoestand voort en geen einde is in sig nie. Die feit dat die bevelsraad hul magte oor Paasfees 2021 versigtiger gebruik, verander niks aan die feit dat die raad steeds te veel magte het waaroor die parlement geen oorsig uitoefen nie.

Die ander opsig waarin Paasfees 2021 anders is, is dat omtrent ’n dosyn hoogs doeltreffende entstowwe wonder bo wonder reeds op die mark is. In lande soos Israel en Brittanje het dit reeds tot so ’n skerp afname in besmettings gelei dat die ekonomie heropen word en daar hoop is dat die lewe soos ons dit voor Covid-19 geken het, sal hervat.

In Suid-Afrika is daar egter van dié normalisering geen teken nie omdat die regering eers op 6 Januarie met die aankoopproses begin het, toe voorloper-lande reeds met inspuitings besig was. Nou is ons ver agter.

Daar is hoop: Entstowwe is “in die pos”. Die private sektor sê hulle is gereed om 150 000 inentings per dag te behartig sodra entstowwe aankom. Samewerking met die regering is ongeëwenaard. Dit is goeie nuus.

Maar die regering durf nie die krisis – en die stadige pas van inentings – gebruik om menseregte en vryhede nog tot Paasfees 2022 te kompromitteer nie.

Meer oor:  Ramptoestand  |  Covid-19  |  Hoofartikel  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.