Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Traagheid sal SA’ners gevreesde ‘virus’ maak

Die regering se gesloer met die toediening van entstof kos lewens, strem die normalisering van plaaslike ekonomiese aktiwiteit én kan Suid-Afrika al hoe meer van die internasionale gemeenskap isoleer.

Suid-Afrika tel onder die lande teen wie van die strengste reisbeperkings ter wêreld ingestel is weens vrese vir die verdere verspreiding van 501Y.V2 – die hoogs aansteeklike variant wat hier geïdentifiseer is.

Toegang tot meer as 120 lande word geweier of reisigers uit Suid-Afrika word aan streng maatreëls soos gedwonge isolasietydperke en veelvuldige Covid-19-toetse onderwerp.

So word niemand wat die voorafgaande tien dae in Suid-Afrika was in Brittanje toegelaat nie en reisigers na Frankryk moet bewys lewer van ’n negatiewe toets én vir ’n week isoleer, om net enkele voorbeelde te noem.

Dit beperk Suid-Afrikaners se bewegings en dié van mense wat hierheen wil reis.

Internasionale toerisme word nog wêreldwyd streng beperk, maar namate entstofprogramme op dreef kom, begin lande kyk hoe om dit weer veilig oop te stel.

Onder die planne op etlike regeringstafels is entstofpaspoorte – ’n vorm van bewys dat ’n persoon ingeënt of onlangs getoets is. Hiermee kry mense groter vryheid van beweging in hul eie omgewing – soos wat reeds in Israel en New York gebeur.

Die internasionale toerismeowerhede wil dit ook gebruik om dié bedryf weer aan die gang te kry. Die hoof van Qantas meen selfs regerings kan hul grense mettertyd uitsluitlik vir besoekers wat ingeënt is, oopstel.

Selfs al sou amptelike entstofpaspoorte nie realiseer nie, sal regerings traag wees om beperkings vir lande sonder omvattende entstofprogramme op te hef.

Variante ontstaan juis in omgewings waar die pandemie hoogty vier. Sulke variante, soos reeds die geval met 501Y.V2 is, kan die doeltreffendheid van entstowwe kniehalter en regerings sal dit uit hul lande probeer hou.

Die streng beperkings op reisigers wat onlangs in Suid-Afrika was, plaas ons reeds laag op die lys van gesogte vakansieplekke. Voornemende reisigers moet die tyd en koste in berekening bring van gedwonge isolasietydperke. Namate inentingsprogramme in ander bestemmings vorder, sal die wurggreep van Covid-19 in Suid-Afrika net vererger.

Voor die epidemie het buitelandse besoekers ’n belangrike bydrae tot ons ekonomie gelewer. Net buitelandse trofeejagters het gemiddeld jaarliks R1,9 miljard hier kom uitgee.

Benewens die impak op die plaaslike toerismebedryf, kan beperkings Suid-Afrikaners nog lank van sakebesoeke, reise en besoeke aan familie in die buiteland weerhou.

Om aan te voer beperkings is onregverdig omdat ryk lande entstof opraap terwyl armer lande moet toekyk, gaan nie help nie. Die pandemie het gewys elke land stel eie belang voorop.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope week aangekondig Suid-Afrika gaan eindelik wesenlike voorrade entstof kry. Planne oor die logistiek om dit toe te dien vorder glo ook. Dit sal ’n ramp wees as sy beloftes weer nie realiseer nie.

Meer oor:  Entstofpaspoorte  |  Covid-19  |  Zweli Mkhize  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.