Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Trump se Amerika skuld ons niks nie

Suid-Afrika is ten beste ondankbaar vir Amerikaanse vriendskap, en soms openlik vyandig.

Ons moet hieroor besin.

Dit is lankal bekend dat die ANC nader voel aan Teheran en Harare as aan Washing­ton, al is Amerika ekonomies gesproke ’n sleutel-bondgenoot, en al is die VSA steeds verreweg en ondanks Donald Trump die wêreld se mees robuuste, nastrewenswaardige demokrasie.

Nikki Haley, ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, het in 2018 al gesê Amerika sou hulp beëindig aan lande wat die VSA vyandiggesind is, en bygevoeg Suid-Afrika is een van die tien lande wat die meeste teen Amerika stem in VN-resolusies, saam met klepto-piesangrepublieke soos Zimbabwe, Burundi, Iran, Sirië, Venezuela, Noord-Korea en Kuba.

Handel tussen Suid-Afrika en Amerika beloop reeds meer as $200 miljard per jaar, en Amerika skenk jaarliks meer as R6 miljard om vir broodnodige MIV-behandeling hier te betaal.

Intussen het ’n Suid-Afrikaanse diplomaat selfs aangebied om Venezuela, waar mense uit asblikke eet en opposisiefigure geëlimineer word, militêr teen Amerikaanse aggressie te beskerm.

Dié tipe anti-Amerikaanse bog is die afgelope week weer ten toon gestel.

Donderdag het ’n groep betogers onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) by die Amerikaanse ambassade in Pretoria betoog teen Amerika se onlangse lugaanvalle op Iranse teikens in Irak.

Hulle het hul voete ritmies gestamp en die woorde “One bullet, one American” gedreunsing teen die agtergrond van ’n groot plakkaat met die gesig van die Iranse krygsheer Kassem Soleimani daarop, en die woorde: “We are all Soleimanis”. Soleimani was tot met sy dood die mees senior militêre amptenaar in ’n totalitêre teokrasie, waar betogers soos dié van die SAKP soos Iranse betogers in November deur die ajatollas se afdwingers vermoor sou word.

Die ANC se Gautengse sekretaris, Jacob Khawe, het saam betoog.

Later die dag is die nyweraar Patrice Motsepe, swaer van pres. Cyril Rama­phosa, op kamera “betrap” in Davos, Switserland, waar hy vir pres. Donald Trump gesê het: “Afrika is lief vir Amerika, Afrika is lief vir jou, ons wil hê Amerika moet goed vaar, ons wil hê jy moet goed vaar, en die sukses van Amerika is ook die sukses van die res van die wêreld.” Linkse kommentators in Suid-Afrika het rooi gesien: Hoe durf Motsepe namens Afrika praat? En wie kan immers lief wees vir Trump!

Met die amptelike aankoms van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Pretoria, die Suid-Afrikaans gebore sakevrou Lana Marks, kan ons gerus besin oor wat Amerika se vriendskap vir ons werd is. Wil ons hê die SAKP moet namens ons praat – of eerder dat Motsepe die ANC iets oor diplomasie leer?

Rapport glo dat Marks, wat sê sy is hier om transaksies te beklink tussen Amerikaanse en Suid-Afrikaanse sakelui ten einde handel en beleggings te vermeerder, verdien om gul verwelkom te word. As sy slaag in haar uitgesproke doelwitte, wen alle Suid-Afrikaners – veral die werkloses, waarvan die getalle tans daagliks groei.

Handel tussen Suid-Afrika en Amerika beloop reeds meer as $200 miljard per jaar, en Amerika skenk jaarliks meer as R6 miljard om vir broodnodige MIV-behandeling hier te betaal.

Die senaat het volgens Marks onlangs opdrag gegee dat die bedrag vanjaar verhoog word na R10,8 miljard.

Wat ook al Suid-Afrikaners dink van Trump, is hy die president van ’n land sonder wie se beleggers, noodleniging, en internasionale teenwoordigheid ons almal slegter daaraan toe sou wees.

Amerika skuld ons niks. Amerika bevorder sy eie belange en Suid-Afrika behoort dieselfde te doen. Dit gaan nie oor “liefde” nie – dit gaan daaroor dat doodgewone Suid-Afrikaners veel meer baat te vind het by ’n gesonde verhouding met Amerika as met skurkstate soos Iran en Venezuela.

Meer oor:  Lana Marks  |  Donald Trump  |  Patrice Motsepe  |  Vsa  |  Beleggings  |  Ambassadeur  |  Hoofartikel  |  Diplomasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.