Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Vrees klein stappies agteruit tot dit te laat is

Die versoeking is groot om parallelle te wil trek tussen Suid-Afrika se benarde situasie – ’n korrupte regering, ’n bevolking wat verarm, foutlyne wat neergelê is deur ons voorsate – en ander lande wat weens rampspoed die nuushooftrekke haal.

Kyk byvoorbeeld na Libanon.

Daar het duisende kilogram vlambare ammoniumnitraat ontplof en sodoende ’n groot deel van Beiroet, die middestad, in puin gelê al het kenners vir jare gewaarsku dat die geringste vonk tot ’n ramp sou lei. Ook die middelstand daar is deur jare van wanbestuur gelyk gemaak met die grond.

Hier lê, sover ons weet, geen vrag ammoniumnitraat in ’n hawe nie, maar dit verg nie baie verbeelding nie om aan te toon dat ’n maatskaplike ontploffing dreig: Rykes wat nie emigreer nie, word ryker; die middelklas, wat die meeste belasting betaal, se vermoë om suksesvolle sakeondernemings te bou, word vernietig deur ’n beheersugtige, kwaadwillige en onbekwame staat wie se voorkeur altyd is om te belas en reguleer; en die armes, altyd misgekyk of in die maag geskop deur opeenvolgende regerings, toe en nou, word meer, en word armer, terwyl die vooruitsig op betaalde werk in die grootste ekonomiese krisis sedert die 1930’s soos mis voor die son verdwyn.

Soms val ’n land net geleidelik uitmekaar.

Maatskaplike toelaes hou hulle kwalik bo die broodlyn, maar nugter weet of die regering dié toelaes sal kan aanhou betaal terwyl ons vanjaar reeds meer as R700 miljard in die buiteland moet gaan leen.

Meng dié bestanddele met ras-retoriek wat enersyds witheid tot probleem maak en andersyds swart Suid-Afrikaners se historiese griewe misverstaan, en dit is nie moeilik om jou ’n ontploffing te verbeel wat die Beiroet-kaboem klein laat lyk nie.

Insgelyks sal waarnemers agterna sê: Ons het julle mos gesê dat so baie honger mense net tot op ’n punt geduld sal hê met opeenvolgende heersersklasse wat hulle destyds misken het ómdat hulle swart was en hulle nou skop terwyl hulle lê ten spýte daarvan.

Maar rampspoed tref ’n land nie altyd in die gedaante van ’n ontploffing nie.

Soms val ’n land net geleidelik uitmekaar.

Dit is wat die afgelope 20 jaar in Zimbabwe gebeur het terwyl die ANC Robert Mugabe keer op keer tou gegee het om nie homself nie, maar sy mense mee op te hang. Ons, Suid-Afrika, die reus in ’n buurt met min om oor te spog, het uit misplaaste tradisionalistiese eerbied jeens ’n strugglestrydros in 2002 en 2005 en 2008 en weer en weer in verkiesings daarna redes gaan soek om Zanu-PF se sistemiese verkragting van ons broers en susters in Zimbabwe nie net stilswyend te duld nie, maar soms openlik te steun.

Soos iemand wat deur die venster sien hoe ’n buurman sy vrou elke naweek slaan en agterna gis dat die vrou seker daarvoor gesoek het, het Suid-Afrika konsekwent die kant gekies van die party met mag, Zanu-PF – teen die party daarsonder, die etlike miljoen mense van Zimbabwe, wat jare gelede al ontredderd vir mekaar gekyk het en gesê het, nee, Suid-Afrika gaan nie ingryp sodat demokrasie hier kan oorleef nie. Ons het die geleidelike uitkalwing van daardie demokrasie moontlik help maak totdat verkiesings alle betekenis verloor en die opposisie konflik-voos was.

Die vernietiging van Zimbabwe, anders as dié van Beiroet, was inkrementeel. Dít is presies wat ons hier moet vrees: klein stappies agteruit totdat dit eendag te laat is.

Meer oor:  Libanon  |  Zimbabwe  |  Hoofartikel  |  Rapport Sê
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.