Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Waarheid oor Eskom is polities inkorrek

Dis kwart voor twaalf by Eskom.

Eskom, die regering en die land het nog tyd om die waarheid oor die probleme in die oë te kyk oor wat verkeerd is, maar daardie tyd loop vinnig uit.

Die waarheid oor Eskom is polities heeltemal inkorrek: dat blindelingse transformasie die eens trotse elektrisiteitsreus op sy knieë gedwing het.

Maar die ANC en die regering sal dit nooit erken nie. Net om dit te sê, stel jou bloot aan beskuldigings van rassisme en selfs haatspraak.

As hulle die neiging van die afgelope 11 jaar nie stuit nie, gaan die kragnetwerk vroeër of later so onstabiel raak dat daar ’n totale ineenstorting is – ’n blackout kan gebeur.

Moenie twyfel oor wat die afgelope week gebeur het nie: Die kragtekorte wat beurtkrag noodsaak, word met spronge groter, pleks van kleiner. In die eerste helfte van vanjaar is 249 eenhede afgeskakel weens foute, teenoor 159 verlede jaar.

Fase 6-beurtkrag het Maandag vir die eerste keer toegeslaan ondanks R56 miljard wat die regering vanjaar bewillig het sodat Eskom beurtkrag kan voorkom. Wat wys dat Eskom en die regering magteloos is in sy stryd om beurtkrag af te weer.

Hulle probeer dit reeds sedert Januarie 2008, toe ons die eerste keer beurtkrag beleef het. Dit help vir ’n paar maande, soms selfs vir ’n jaar of twee. Maar daarna keer die probleem met dividende terug.

Mike Rossouw se diagnose hier is ’n raak een: Eskom en die regering verstaan nie die probleem nie – hulle plak pleisters oor koeëlwonde. As hulle die neiging van die afgelope 11 jaar nie stuit nie, gaan die kragnetwerk vroeër of later so onstabiel raak dat daar ’n totale ineenstorting is – ’n blackout kan gebeur. Dit is die nagmerrie wat Eskom en die regering glo nie kan gebeur nie danksy die gevorderde beheersentrum by Simmerpan in Germiston, wat eintlik outomaties “besluit” wanneer beurtkrag toegepas word.

Van 2004 tot 2015 het die getal korttermyn-steenkoolkontrakte aan Eskom gestyg van 13 tot 44. Die getal vervoerkontrakte vir steenkool wat per pad by kragsentrales afgelewer word, het van tien tot 64 toegeneem.

Dis alles kontrakte wat aangegaan is om swart ekonomiese bemagtiging te bevorder. En moet geen fout maak nie, dis eintlik maar baantjies vir boeties. Dit was en is steeds ANC-kaders wat beloon word.

Die gevolge daarvan is ingewikkeld, maar vernietigend. Dis nou eindeloos moeiliker, eintlik onmoontlik, om die gehalte van steenkool te beheer wat aan die kragsentrales gelewer word.

Elke kragsentrale se steenkoolvereistes verskil omdat elke kragstasie langs ’n steenkoolmyn gebou is waarvan die kole aan die spesifikasies voldoen het.

Die afwykings beteken dat sowat 4 700 reusagtige stukke toerusting vandag in Eskom se 13 ou kragsentrales herstel, vervang of gerestoureer moet word. Dis die “diep onderhoudswerk” waarvan Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, praat.

Meer oor:  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.