Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Wie bring die eiers en wie bring die spek?

Die land is in die moeilikheid en vra opofferings. Van almal – nie net van sommige van ons nie.

Cosatu se voorstel Vrydag in die parlement dat die salaris van politici en bestuurders in die staatsdiens met 25% besnoei word, dat ’n einde gemaak word aan ministers se luukse rondrits-voordele en dat die getal adjunkministers verminder word van 33 tot tien is ’n broodnodige vars bries in ’n moeilike debat wat nie langer uitgestel kan word nie: hoe om die buitensporige loonrekening van die staat in bedwang te bring.

Die beperking van die loonrekening is die enigste oplossing vir die skuldkrisis wat dreig om die land te verswelg. En moenie daaraan twyfel nie: as ons nie hierdie bul by die horings pak nie, gaan dit ons land vernietig.

Daarom moet staatsamptenare, wie se salaris die afgelope 12 jaar met 70% meer as inflasie gestyg het, vir vier jaar sonder verhogings klaarkom.

Aikôna, sê Cosatu. Moenie vir ons vertel dat julle, die hoenders, eiers gaan skenk vir ontbyt en dan van ons, die varke in die verhaal, verwag om spek op die tafel sit nie.

Want om vir vier jaar sonder ’n verhoging klaar te kom as jy R85 000 per maand verdien, is iets heeltemal anders as wanneer jy R12 000 per maand verdien.

Ander jare sou daar in die Uniegebou en in die parlement kwalik notisie geneem word van sulke voorbarigheid. Maar einde Maart verstryk die huidige loonooreenkoms vir staatsamptenare en moet ’n nuwe ooreenkoms onderhandel word.

Hulle het verlede jaar geen verhoging gekry nie en die voorstel dat hulle vir nog drie jaar sonder een moet klaarkom, is ’n resep vir ’n staking wat ons ook oor die afgrond sal stoot.

Om politici en topamptenare se salaris met 25% te besnoei, gaan geen noemenswaardige verskil aan die land se uitgawes maak nie, maar dit gaan ’n uiters belangrike sein stuur aan die amptenary. Hulle gaan ’n loonbevriesing nie sonder so ’n versoeter aanvaar nie.

Ná Vrydag weet die hoenders wat van hulle verwag word.

In die private sektor sou die oplossing eenvoudig gewees het: kap koppe af – hoenders en varke – totdat uitgawes by jou beursie pas.

Maar dit gebeur nie in die staatsdiens nie – nêrens nie. ’n Loonbevriesing is omtrent die mees radikale stap wat ’n mens kan verwag.

In Suid-Afrika het die verhouding van staatsamptenare tot die res van die bevolking boonop verander van 1 tot 34 in 1994 tot 1 tot 50 vandag.

Dis ’n ingewikkelde vraagstuk. Die afgelope jare is talle studies gedoen – veral in die begrotingskantoor van die nasionale tesourie, maar ook deur private ontleders.

Amptenare op die laer posvlakke het die meeste baat gevind by die buitensporige verhogings. Die getal amptenare wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, het egter toegeneem van so 7 500 in 2008 tot meer as 25 000 in 2018. Maar verreweg die meeste van hulle was dokters, wat toegeneem het van 4 700 in 2008 tot 13 365 in 2019.

Jy kan kwalik hul salaris met 25% besnoei.

Boonop is produktiwiteit al jare lank ’n vraagstuk in ons staatsdiens waaroor die vakbonde botweg weier om te praat. As die regering se onderhandelaars hul kaarte reg speel, kan hulle vanjaar dié vraagstuk uiteindelik op die tafel plaas. Maar dit gaan vindingrykheid vra.

Meer oor:  Kommentaar  |  Rapport  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.