Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Wit linne’n rooi vlag vir staat se medies

’n Mens sal ver moet soek na ’n beter voorbeeld van presies hoe siek Suid-Afrika se staatsdiens is as die verhaal van die linne en die R150 miljoen waaroor Rapport onlangs berig het.

Eerstens is daar die algehele onvermoë om selfs die mees basiese take te verrig. Die bedrag van R150 miljoen wat in die vorige boekjaar aan die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV) toegewys is om ’n nypende linne­tekort in staatshospitale te verlig, het ’n somtotaal van nul lakens opgelewer.

’n Tekort aan so ’n basiese benodigdheid het ’n rimpel-uitwerking op die funksionering van ’n hele staatshospitaal. Dit veroorsaak byvoorbeeld dat operasies uitgestel moet word, wat agterstande op waglyste vererger en die kosbare tyd van hoogs opgeleide chirurge verkwis.

Daarom was dit veronderstel om een van die departement van gesondheid se prioriteite in die vorige boekjaar te wees.

Toe nou nie.

Tweedens belig die linnedebakel ’n staatsdienskwaal wat helaas veel wyer as net die gesondheidsdepartement of NGV-program strek: Die rojale besteding aan salarisse, terwyl kapitaalprojekte, toerusting-aankope en instandhouding aan die agterspeen suig.

Dieselfde NGV wat nie ’n enkele laken met R150 miljoen kon koop nie, kon darem wel daarin slaag om elke maand salarisse aan 154 werknemers uit te deel.

Dieselfde Eskom wat Suid-Afrika in ’n kragkrisis gedompel het, het sowat 50% meer werknemers as 15 jaar gelede, toe daar geen krisis was nie.

Dit is reeds geruime tyd duidelik dat die land se staats- en semistaatsinstellings werkverskaffingsagentskappe eerste en diensleweraars tweede geword het.

Wanneer bekwame en beginselvaste mense by dié instellings probeer om broodnodige besnoeiings deur te voer, word hulle in hul spore gestuit deur hul politieke meesters – soos die vorige SAUK-raad gou uitgevind het.

Selfs die minister van finansies, Tito Mboweni, maak nie hond haaraf nie. Sy beroep dat staats­departemente 5% moet bespaar deur salarisse te besnoei, het op dowe ore geval. Die departemente kon net 2% bespaar en dit boonop deur besteding aan goedere en kapitaalprojekte in te kort – presies wat Mboweni nie wou gehad het nie.

Die minister het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk darem wel daarin geslaag om R575 miljoen by die sukkelende NGV weg te vat.

’n Mens sidder om te dink wat gaan gebeur wanneer die lamlendige linne-aankopers op die veel meer komplekse take van ’n moderne mediese versekeringstelsel losgelaat word.

’n Regering met ’n greintjie selfinsig sou besef het dis tyd om die wit laken te hys.

Meer oor:  Besparing  |  Hoofartikel  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.