Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar:
Tyd is nou ryp vir versetbeweging teen Jacob Zuma

Die geboorte van ’n beweging van politieke partye en organisasies om pres. Jacob Zuma uit die kussings te lig, hou belofte in om ’n bepalende oomblik in die land se geskiedenis ná die apartheidstyd te wees.

Die tyd was nog nooit so ryp soos nou om die wêreld vir Zuma en sy korrupte kliek warm te maak nie. Die momentum wat opgebou is met die groot optogte die laaste tyd teen Zuma kon stoom verloor het as partye en organisasies hul eie pad geloop het.

Die Freedom Movement, soos die beweging gister in Soweto gedoop is, sê Suid-Afrika met Zuma as staatshoof ervaar sy grootste krisis sedert 1994.

Al die opposisiepartye en ’n reeks organisasies gaan onder dié vaandel teen Zuma mobiliseer.

Daardie onvermoeide stryder om geregtigheid, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, het laat weet hy en sy vrou, Leah, steun die beweging.

Tutu was ’n leier in die United Democratic Front (UDF), wat in 1983 gestig is en wat die belangrikste beweging in Suid-Afrika geword het om die apartheidsregering op sy knieë te dwing.

Op sy hoogtepunt was die UDF ’n sambreelbeweging waartoe honderde organisasies behoort het – kerke, jeugbewegings, vakbonde, gemeenskapsorganisasies, noem maar op – met een doel voor oë: om van apartheid ontslae te raak.

Toe FW de Klerk apartheid in 1990 beëindig het, het die UDF sy bestaansrede verloor en later ontbind.

Die Freedom Movement het ook ’n gemeenskaplike doel: om staatskaping en korrupsie, soos deur Zuma verpersoonlik, te stuit. Zuma het die speelveld onherroeplik verander met sy kabinet­skom- meling, die rommelstatus daarna en die ekonomiese pyne wat nog voorlê.

Die Freedom Movement het ’n goeie saak om steun voor te werf.

Zuma maak ons almal armer. Die wisselkoers verswak, inflasie en rentekoerse gaan styg en die ekonomie gaan aanhou stotter.

Dit kan die gom wees wat die Freedom Movement bymekaarhou. Natuurlik sal daar altyd onderlinge verskille wees. Solank almal die oorhoofse doel nastreef, kan die beweging dalk sukses behaal, maar maklik gaan dit nie wees nie.

Meer oor:  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.