Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Biden slaan met kabinet al nuwe koers in, maar . . .
Joe Biden het anders as pres. Donald Trump nooit sonder ’n masker in die openbaar verskyn nie. Foto: Reuters

Terwyl die VSA die laaste stuiptrekkings van Trumpisme beleef, berei Joe Biden hom voor vir sy inhuldiging op 20 Januarie as 46ste Amerikaanse president. Met die samestelling van sy kabinet wys Biden hoe sy aanslag veral internasionaal van sy voorganger gaan verskil.

Verwag ’n Amerika wat nie sy bes gaan probeer om hom van die wêreld te vervreem nie, meer inklusief en verteenwoordigend te werk sal gaan, en eenheid sal nastreef. Die herskikking gaan ook die bevordering van vrye handel, stappe teen aardverwarming en ’n hernude verbintenis met die Wêreldgesondheidsorganisasie, Wêreldhandelsorganisasie en internasionale verdrae, soos die ooreenkoms van Parys, insluit.

Biden se keuse van Kamala Harris as sy verkiesingsmaat was die vroeë aanduiding van die vars koers wat hy beoog om in te slaan. Klaarblyklik is hy baie meer span-ingesteld as die individuele storm genaamd Donald Trump wat in 2016 met die Withuis as persoonlike hoofkwartier gewoed het.

Nou word Harris, ’n voormalige prokureur-generaal van Kalifornië, Amerika se eerste vroulike visepresident – en boonop ’n swart ene.

Biden het talle vroue in topposte aangewys in sy diverse ekonomiese span wat sal fokus op die herstel van die Amerikaanse ekonomie ná die skade wat die Covid-19-pandemie aangerig het. Janet Yellen, ’n oudvoorsitter van die Federale Reserweraad, is as minister van finansies benoem.

Nog ’n onverwagte keuse wat lof inoes, is die van die afgetrede genl. Lloyd Austin, wat die Amerikaanse magte in die Midde-Ooste gelei het, as die land se eerste swart minister van verdediging.

Ander keuses bevestig Biden gaan hom nie met klone omring nie, maar met ervare spesialiste ’n konstruktiewe en tegnokratiese koers inslaan. Sy aanstellings sluit Antony Blinken as minister van buitelandse sake, John Kerry in die nuwe pos van klimaatgesant en die Kubaans-gebore Alejandro Mayorkas as hoof van binnelandse veiligheid in.

Die eerste uitdaging is dat die Demokrate in die verkiesings in Januarie beheer oor die senaat oorneem. Indien nie, kan van ’n Republikeins-gedrewe senaat teenkanting teen die nuwe kabinet se voornemens verwag word. En die dooiepunt sal die gewone stagnasie en ontmagtiging meebring.

Meer oor:  Joe Biden  |  Kommentaar  |  Vsa  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.