Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: ‘Blackfacing’ by Maties wys SA se rasdilemma

Die voorval van beweerde Blackfacing by die Universiteit Stellenbosch (US) waarvoor twee vroulike studente hulself skorsing uit hul koshuis op die lyf geloop het, wys hoe ras-sensitief Suid-Afrika is. Rakende kwessies van ras is dit vir die land ’n geval van hoe om die pad omsigtig te stap eerder as dat ’n uniforme stel reëls na almal se sin gaan kom.

Wie sou in elk geval opgewasse wees om as voorsorgmaatreël ’n stel voorbeelde saam te stel van “rasvoorvalle” wat sou kon kwets en vermy moet word? Nie die Mensregtekommissie nie.

Uiteenlopende reaksies oor die Matie-voorval, wat wissel van verontwaardigde belaglikheid (dat “studentepret” as rassisties beskou kan word) tot gekwestheid (oor ras-meerderwaardigheid), wys hoe fyn én onoorbrugbaar die skeidslyn tussen mense se belewenis is. Die studente se pers verwery van hul gesigte vir ’n “ruimtepartytjie” het ’n ondersoek deur die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid en die sentrale tugkomitee met lede verteenwoordigend volgens “ras en geslag” ontketen. ’n US-verklaring gee ook hoog op oor hoe sterk hy alle rassisme en diskriminasie veroordeel.

In ’n land waar die wreedste geweldsmisdaad en korrupsie gedy, is dit moeilik om ’n greep op die verband tussen die studente se misstap en die reaksie daarop, asook die US se blitsige optrede, te kry. Asof in ’n politiek oorkorrekte omgewing te maklik aanstoot geneem word waar aanstoot nie bedoel is nie. Veral in ’n land waar ras-opportuniste uit elke “geleentheid” punte aanteken, soos politieke partye in die aanloop tot 2016 se munisipale verkiesing doen.

As konsekwentheid nagestreef word, dreig die oordeel oor diesulke “rasvoorvalle” om in die teater van die absurde te ontaard. Met deelnemers aan inisiasieskole wat hulself wit verf; spelende kinders wat hulself met modder van allerlei kleure bemors; sportondersteuners wat hulself in hul span se kleure tooi – wat dan taboe sou wees.

Die US se verteenwoordigende ondersoekspan behoort onder meer die bedoeling van die twee studente, die “rassisme” in die voorval en die opregtheid van die “aanstoot” geneem te meet. Met geen vaste stel reëls wat hiervoor bestaan nie, is dit onbenydenswaardig. Hopelik kry die twee studente se regte en trauma ook aandag.

Meer oor:  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.