Die Sweedse Nobelprys-komitee sit effens met sy hande in die hare omdat hy glad nie die rockmusikant Bob Dylan kan opspoor om die Nobelprys vir letterkunde aan hom te kan oorhandig nie.
Dit is klassieke Dylan-gedrag – dat hy nie opgespoor wil word deur ’n instansie wat hy as deel van die establishment beskou nie. As jy die grys skoene se geld aanvaar, is jy nie meer ’n protessanger wat hulle kan aanvat in jou liedjies nie.
Dylan, wie se poëtiese lirieke miljoene mense oor 50 jaar inspireer, is nie die eerste skrywer of digter wat dié prys minag nie. Jean-Paul Sartre het in 1964 die prys geweier, maar sy brief het die komitee te laat bereik. Hy’s nog ’n amptelike ontvanger. “ ’n Skrywer moet weier om homself toe te laat om in ’n instansie verander te word, selfs al geskied dit in die mees eerbare vorm,” was sy verweer.
Dis waarskynlik Dylan se houding ook.
Die sanger-liedjieskrywer het egter nóg protes teen die toekenning aangeteken nóg dit geweier. Hy steur hom bloot nie daaraan nie. Hy kan wél die prysgeld van $900 000 (sowat R12 miljoen) weier, maar nie die toekenning nie. Dit sal altyd onder sy naam pryk.
Dylan skaar hom hiermee eerder by skrywers soos Vladimir Nabokov, JRR Tolkien, WH Auden, Jorge Luis Borges, Leo Tolstoi en Anton Tsjechof, wat oor die hoof gesien is, as wat hy tussen die uitgelese groep ontvangers wil pryk, soos Doris Lessing (Brittanje, 2007), Orhan Pamuk (Turkye, 2006), JM Coetzee (Suid-Afrika, 2003), Günter Grass (Duitsland, 1999) en die laaste Amerikaner voor hom wat dit gewen het, Toni Morrison (1993).
Die debat of ’n folkrocker-liedjieskrywer die Nobelprys moes wen, sal nog net so lank soos sy tydlose liedjies soos “The Times They Are a-Changin’ ”weerklink. Is sy lirieke beter as Breyten Breytenbach se gedigte, word plaaslik gevra. Salman Rushdie se reaksie was: “Van Orpheus tot Faiz was liedjies en poësie naby mekaar. Dylan is die briljante erfgenaam van die sangerdigter-tradisie. Uitstekende keuse.”
Soos Dylan sing: “Every man’s conscience is vile and depraved. You cannot depend on it to be your guide when it’s you who must keep it satisfied.”